Die Zevenwacht-wynlandgoed, wat verlede jaar die eerste keer onder die trofeewenners by die Investec trofeewynskou was, het dit vanjaar wéér reggekry.
Dié hoogaangeskrewe wynkompetisie se prysuitdeling is op Dinsdag 4 Junie op die Glen Carlou-landgoed gehou. Zevenwacht, verlede jaar se top-produsent op die skou, het vanjaar die tweede plek, ná die KWV, op die lys van die top-10 mees suksesvolle produsente ingeneem.
Zevenwacht se Z Collection Reserve 2021 het met die Riedel-trofee vir die beste bordeaux-versnitwyn weggestap. Die wyn is ook onder die top-drie rooiwyne op die skou, wat almal 98 punte uit 100 behaal het.Saam met die trofeewenner het nog ’n wyn uit die landgoed se reeks premiumwyne, die Z Collection Sauvignon Blanc 2023, met 97 punte ook ’n goue medalje (95+ punte) behaal.
The Tin Mine Cape White Blend 2023 (93 punte) en The Tin Mine Syrah Mourvèdre Grenache 2021 (90) het silwermedaljes gekry. Hagen Viljoen, wat sedert 2018 keldermeester op Zevenwacht is en nou saam met medewynmaker Charles Lourens in die kelder werk, het voorheen gesê dat hulle die afgelope jare hard daaraan werk om die landgoed se handelsmerk tot nuwe hoogtes te neem.
Produsente naby die noordelike voorstede wat onder vanjaar se beste klastrofeewenners tel, sluit Bloemendal in wat met twee trofeë weggestap het: beste museumklas semillon vir die Bloemendal Semillon 2017 en beste museumklas sauvignon blanc-semillon-versnit vir Bloemendal Kanonberg 2018 (97 punte).
Trofeë
Durbanville Hills het die trofee vir die beste pinotage gekry vir die Durbanville Hills Collectors Reserve The Promenade Pinotage 2022. Vanjaar is 640 wyne blind beoordeel.
Altesaam 443 is met medaljes beloon, waarvan net 32 goud behaal het. Daar is 125 silwermedaljes (90 tot 94 punte) en 286 bronsmedaljes (85 tot 89 punte) toegeken. Vanjaar se internasionale beoordelaars was die wynmeesters Lisa Perrotti-Brown van Napa in Amerika, Fongyee Walker van China en Claire Blackler van Londen in Engeland. Plaaslike paneellede het gegradueerdes van die Wine Judging Academy van die Universiteit van Kaapstad ingesluit.
Die wenwyne (trofee-, goue en silwermedalje-wenners) van 83 verskillende landgoedere kan by ’n geleentheid in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum geproe word op Woensdag 19 Junie om 17:00.


