Die erediens in Calitzdorp is deur ds. Marietjie Steyn van die Groote Kerk in Kaapstad gelei.


Altesame 20 jongmense van Ysterplaat, Table View en Kaapstad verbonde aan die NG kerk Ysterplaat het die naweek van 6 Augustus Calitzdorp besoek en aan verskeie aktiwiteite met die kinders en seniors in die omgewing deelgeneem.

Met die kinders is gespeel, poppekasvertonings gehou en kos voorberei en saam geëet.

“Tydens die uitreik het ons besef daar lê vreugde in saamwees en saamdoen. Ons glo dat Jesus nie net goed na ons toe gestuur het nie, maar dat Hy self aarde toe gekom het. Daarom moedig ons ook ons jongmense en ander aan om uit te reik na mense wat dit nodig het, al is dit net om saam te bid, saam te sing of saam te eet,” sê ds. Scherlize van der Merwe, leraar van die NG kerk Ysterplaat.

Almal het die Vrydagaand in die kerksaal geslaap en Saterdag vroeg vertrek om 09:00 in Calitzdorp te wees. Hulle het die egpaar ontmoet, wat ’n skool gebou het waar 300 kinders tans skoolgaan, asook ’n speelpark.

Saterdae word kos uitgedeel

“Die egpaar deel Saterdae kos en vrugte aan die kinders uit. Dit was ongelooflik om te sien hoe mense hul lewens gee om na ander om te sien. Sowat 200 kinders het ons Saterdagoggend by die skool kom groet,” sê sy.

“Ds. Marietjie Steyn, predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, wat ons vergesel het, het die erediens die Sondagoggend gelei. Ons Isibindi-span het aan die erediens deelgeneem deur tekste te lees.

“Daarna het ons die ouetehuis op die dorp besoek, saam gesing en elkeen het ’n klein geskenkie ontvang. Maandag het ons De Hoop, ’n gemeenskap buite Calitzdorp, besoek en weer met die kinders gespeel en saam kos gemaak en geëet. Ons het ook ’n poppekasvertoning gehou en lustig saamgesing. Ons almal het regtig vreugde ervaar saam met die kinders,” sê Van der Merwe.

Bome geplant

By die plaaslike hoërskool het die groepie vyf bome geplant en ook handsakke by die Hope-sentrum in Calitzdorp afgelaai. Dit sal aan vroue wat slagoffers is van geslagsgeweld, uitgedeel word.

“Dinsdag het ons die pad terug aangedurf – vol energie en geïnspireer deur die mense van Calitzdorp,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article