Xia du Toit, 2021 se Story Stars-wenner van die Laerskool Mikro en haar animasie-karakter.


Xia du Toit, ’n gr. 4-leerder aan die Laerskool Mikro, is Maandag as die wenner van die provinsiale onderwysdepartement se 2021-Storiester-kompetisie vir gr. 4-leerders aangekondig.

Leerders het meegeding vir die geleentheid om ’n storie wat hulle self moes skryf, voor te lees as deel van die vervaardiging van die Story Stars-animasiefliek. Die rolprent is uit stories van gr.4-leerders van reg oor die Wes-Kaap saamgestel.

Hoewel Xia al einde verlede jaar genader is sodat die verfilming kon begin, het Debbie Schäfer, provinsiale minister van onderwys, eers Maandag die Laerskool Mikro besoek om Xia amptelik as wenner aan te kondig.

Schäfer het ook die gedeelte van Story Stars: The adventures of Felix and Felicity waarin Xia se storie en Xia self as karakter saam met Felix en Felicity verskyn, bekend gestel. Die video is vir vanjaar se gr.4-leerders van Mikro gewys. Dit was ook die begin vir vanjaar se Story Stars-kompetisie vir al die nuwe graad viers.

Schäfer het gesê Xia se storie, “Afrika-kinders”, is gekies omdat sy die korrekte leestekens, spelling en woordeskat gebruik het. Xia was ook uitermatig kreatief met haar storie, wat gebeure uit die verlede ingebring en verbeeldingryke karakters geskep het wat die animasiekunstenaars baie opgewonde gemaak het om dit om te skep, het Schäfer gesê. Sy het ook lof gehad vir Thealize Blake, ’n onderwyser, wat die leerders aangemoedig het om deel te neem en hul kreatiewe skryfvaardighede help slyp het.

Kungawo Ntoyanto van Blossom Street

Primary School was tweede en Ashlynn Jansen van die Laerskool Monte Vista derde uit die honderde inskywings wat ontvang is.

Ander leerders uit die noordelike voorstede wat onder die top-10 was, is Juwan Conradie van die Laerskool Mikro (negende) en Tyla Goldschmidt van die Laerskool Bellpark (tiende).

Vanjaar se gr. 4-leerders kan hulle nou inskryf vir die volgende afdeling van Felix en Felicity se avonture.

Volgens die onderwysdepartement is die doel van die kompetisie om leerders opgewonde te maak oor kreatiewe skryfkuns en die moontlikhede wat dit ontsluit.

Die animasie gee leerders die kans om te sien hoe hul stories lewe kan kry.

Volgens ’n peiling wat die departement in 2019 in ’n klas van gr.4-leerders gedoen het, was dit duidelik hulle kyk graag na animasierolprente en wil graag You Tube-sterre wees.

Besoek https://wcedonline.westerncape.gov.za/story-stars om die film te kyk of af te laai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article