Wyksraadslid van wyk 70, Andrea Crous

Verskaf

Fondse of wykstoelae in middelklasbuurte in Kaapstad kan moontlik in die toekoms deur die Stad Kaapstad onttrek word om in armer gebiede gespandeer te word.

Die jaarlikse toelae van R850 000 word aan elke wyk in die Stad toegeken om spesifieke behoeftes in daardie wyk se woonbuurte aan te spreek.

Die geld word byvoorbeeld gespandeer op kleiner projekte, soos om nuwe sypaadjies, voetpaadjies en  spoedwalle te bou, straatname te verf en plaaslike parke te verfraai. 

Plaaslike wyksraadslede is baie bekommerd oor hoe dié wending belastingbetalers in die wyke gaan beïnvloed. 

“Indien die fondse onttrek word, gaan raadslede in dié wyke geen geld hê om in hul wyke te spandeer nie en sal projekte in dié wyke ook noodgedwonge gestaak moet word,” sê wyksraadslid van wyk 70, Andrea Crous.

Volgens Crous is raadslede in subraad 3 vandeesweek ingelig oor die aanstelling van ’n spesiale taakspan van die Stad wat sal besluit uit watter wyke dié toelaes onttrek gaan word.  

Subraad 3 sluit dele van Bellville, Durbanville, Tygervallei en Bloubergstrand in.

Daar word bespiegel dat die wykstoelae wat uit die meerderheid van die Stad se 116 wyke onttrek gaan word, dan in die sowat 47 armer wyke ingeploeg gaan word, waar die Stad sê dit “meer nodig is”.

Maar plaaslike wyksraadslede meen dat dit onregverdig sal wees teenoor belastingbetalers in middelklaswyke.

“In sommige middelklaswyke is dié toelae die enigste fondse wat daar beskikbaar gestel word vir spesifieke behoeftes, en is dus baie noodsaaklik,”  het ’n ander raadslid aan TygerBurger gesê.

Die Stad Kaapstad wou by medianavraag nie die aanstelling van die taakspan bevestig of ontken nie. 

“Die Stad is in die proses om ’n kliënt-gesentreerde diensleweringsmodel te implimenteer. ’n Belangrike deel hiervan is die skep van gelykheid in dienslewering oor die stad heen, met die kern daarvan die organisatoriese ontwikkelings- en transformasieplan (ODTP),” het ’n woordvoerder van die Stad gesê.

In hierdie verband, sê hy, is hul fokus om die doeltreffendheid van die toepassing van wyksbegrotings te hersien. “Verskeie modelle word dus oorweeg vir goedkeuring deur die subrade en Stadsraad.”

Hy sê voorts geen besluit is nog geneem oor wyksbegrotings nie. 

“Inderwaarheid het die uitvoerende direkteur van area-gebaseerde dienslewering nie die mag om te besluit oor die beleid in terme van wyksbegrotings en hoe dit gebruik word nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.