‘n Bejaarde inwoner van die Two Oceans-woonstelblokke in Loevenstein spreek sy kommer uit oor die toenemende verval van woonstelblokke as gevolg van swak instandhouding.
Die realiteit van woonstellewe kan soms ‘n nagmerrie word wanneer instandhouding verwaarloos word en veiligheidsprobleme ophoop. Dit is die werklikheid waarmee Selwyn Benardo, ‘n bejaarde inwoner, daagliks gekonfronteer word in sy woonstelkompleks.
Volgens Benardo skep die gebrek aan toepaslike instandhouding ‘n reeks ernstige veiligheidsprobleme wat alle inwoners, maar veral kwesbare groepe soos kinders en bejaardes, bedreig.
Onder die mees kommerwekkende toestande tel, gate in die grond wat al meer as ‘n jaar lank bestaan sonder dat enigiemand dit reggemaak het, stukkende trappe sonder relings wat val-ongelukke kan veroorsaak, vrot balkonne wat ‘n ernstige struktuurgevaar inhou en algemene verwaarlosing van noodsaaklike herstelwerk.
“Die veiligheid van ons kinders en ouer mense word in gevaar gestel deur hierdie verwaarlosing,” beklemtoon Benardo sy kommer.

‘n Groot deel van die frustrasies spruit uit die beweerde swak bestuur van kontrakteurs en die gebrek aan doeltreffende kommunikasie. Volgens hom word klein maar noodsaaklike herstelwerk — soos om ‘n gat met sand te vul — geïgnoreer, terwyl groter projekte skielik prioriteit kry.
“Hulle is nie toegewyd nie en daar is ‘n gebrek aan kommunikasie,” verduidelik hy. “Die kontrakteurs word nie doeltreffend bestuur nie.”
Benardo beweer dat geld nie korrek bestuur word nie en dat daar skielik “geen geld beskikbaar is” vir belangrike instandhoudingswerk nie.
Ten spyte al die frustrasies stel hy konstruktiewe oplossings voor — aanbeveling dat ‘n nuwe, betroubare kontrakteur aangestel word om die huidige probleme aan te pak, aangesien die bestaande een duidelik faal om sy verpligtinge na te kom.
Verder beklemtoon hy die noodsaaklikheid van beter finansiële bestuur en dat verantwoordelike partye aanspreeklik gehou moet word vir hul tekortkominge.
Benardo se ervaring lig ‘n wyer probleem uit wat baie woonstelkomplekse raak; die verval van infrastruktuur as gevolg van swak bestuur en verwaarloosde instandhouding.
Die verhaal dien as ‘n waarskuwing dat inwoners aktief moet bly oor die bestuur van hul woongemeenskappe en dat toepaslike strukture in plek moet wees om aanspreeklikheid te verseker.

Vir Benardo en sy mede-eienaars bly die hoop dat hul stemme gehoor sal word en dat toepaslike aksie geneem sal word voordat hierdie veiligheidsprobleme tot tragedies lei.
In reaksie op Benardo se openbare klagtes het Danie Smit, portfolio-bestuurder van Two Oceans, gereageer op medianavrae wat ‘n ander perspektief op die situasie bied.
Volgens Smit is daar gevestigde prosedures wat gevolg moet word wanneer bewoners klagtes het. “Die korrekte stappe is dat sodanige persoon die saak met die regspersoon opneem op skrif en nie met die pers nie.”
Hy beklemtoon dat daar wel ‘n opsigter is en “enige klagtes word ondersoek en daar word aandag aan gegee”.
Smit stel ook ‘n belangrike vraag wat die beweerde verwaarloosdheid bevraagteken: “As die plek so verwaarloos is, hoe kan eenhede vir R1 250 000 en R1 350 000 verkoop word?”
Hierdie stelling dui daarop dat die bestuur glo die eiendom se waarde en toestand nie so sleg is as wat Benardo beweer nie.
Smit beklemtoon ook die finansiële realiteite waarmee woonstelkomplekse te kampe het: “Onthou, daar word met die heffings van 123 eienaars gewerk en alles kan nie net gedoen word as een persoon sy ofhaar vingers klap nie.”
Smit se reaksie beklemtoon dat die bestuur wel bereid is om aandag aan klagtes te gee, maar dat bewoners die korrekte kanale moet volg.
“Die inwoner moet asseblief die korrekte prosedures volg. Alle sake sal uiteindelik aandag kry.”


