Die brandweerdienste het verlede week ’n brand by ’n woonstel in ’n gebou in Voortrekkerweg in Parow geblus.
Jermaine Carelse, woordvoerder, sê brandweerdienste van die Stad Kaapstad het op Vrydag 20 Oktober om 11:30 ’n oproep ontvang van rook wat by ’n venster van ’n woonstel in Glenlily in Parow uitkom.
Die gebou is geleë op die hoek van Robertsonstraat en die besige Voortrekkerstraat en McIntyreweg.
Brandweerdienste van onderskeidelik Bellville, Epping, Milnerton en Roelandstraat in Kaapstad is uit na die toneel.
“Met hul aankoms het hulle gevind dat ’n enkele woonstel op die vyfde verdieping heeltemal deur vlamme verswelg is. Daar was niemand in die woonstel nie,” sê Carelse.
Brandweermanne het die vlamme om 12:00 geblus, maar daar is erge skade aan die woonstel en sy inhoud aangerig. Niemand is beseer nie, sê Carelse.