As daar nou een instansie is wat groot frustrasies het oor die stormagtige Kaapse winterweer, is dit die Hoërskool Tygerberg.

Dié skool in Parow se rugbyspanne is in hierdie stadium “agterstallig” met drie uitgestelde wedstryde – wat nou meebring dat die Parowiete sewe wedstryde binne die volgende vyf weke sal moet inpas. (Die skolerugbyseisoen eindig in Augustus.)

Heelparty skole se spanne is die afgelope drie weke deur modder- en oorstroomde velde gekortwiek – sodanig dat verskeie wedstryde uit- of afgestel moes word. En afgesien van die afgelope twee naweke se uitgestelde kragmetings sit die HS Tygerberg boonop nog opgesaal met ’n uitgestelde wedstryd van verlede kwartaal.

Sommige skole kon egter wel die afgelope naweek deurdruk met hul rugbyverpligtinge – en met indrukwekkende vertonings deur die eerstespanne van veral Stellenberg, Milnerton en HTS Bellville.

  • Stellenberg was op pad na ’n oorwinning oor die Landbouskool Oakdale, maar die Riversdallers het net voor die eindfluitjie ’n drie gedruk om met 24-24 gelykop te eindig.
  • Milnerton het HS Strand met 33-19 geklits en HTS Bellville het DF Malan met 41-29 geklop. In ander eerstespanwedstryde was ook Brackenfell (31-11 t Melkbosstrand) en Fairmont (60-7 t The Settlers) aan die wenkant.
  • Vroeër verlede week is Durbanville in sy uitgestelde wedstryd teen Landbouskool Boland naelskraap met 27-22 geklop.
  • Wedstryde die komende Saterdag is: Stellenberg t Paul Roos, HS Bellville t Duineveld (Upington), Brackenfell t HTS Bellville, Milnerton t Charlie Hofmeyr (Ceres), HS Tygerberg t Hottentots-Holland, Monumentpark t HS Strand, Melkbosstrand t DF Malan.

You need to be Logged In to leave a comment.