Die Stad Kaapstad sê hy ondersoek ’n voorval waarin ’n tamaaie wilde-vyeboom glo onlangs deur ’n inwoner in Mopaniestraat in Plattekloof afgekap is. Volgens Cheryl Visser, wyksraadslid, het ’n inwoner die boom glo deur ’n kontrakteur laat afsaag om ’n beter uitsig oor Tafelberg te bekom. ’n Ketting-saag is glo hiervoor gebruik.
“Hulle het begin deur die pragtige kroon van die wilde-vyeboom te verwyder,” sê sy.
Daar is glo geen goedkeuring deur die Stad se parke-departement daarvoor uitgereik nie. “Sou daar wees, sou die parke-afdeling self die boom kom snoei of uithaal.”
Visser sê ingevolge die Stad se boombeleid was daar geen rede om die boom uit te haal, of te snoei nie.
“Dit is na my mening gedoen deur die inwoner om ’n uitsig oor Tafelberg te hê en dit is onwettig gedoen.
“Gemeenskapslede het my gekontak terwyl dit gebeur het. Veiligheidsmaatskappye het uitgegaan en verdere skade probeer keer. ’n Lid van die PWP-buurtwag het daar bly staan totdat die werkers nie meer kon sny nie,” sê ’n ontstoke Visser.
Sy sê die superintendent van die parke-afdeling het ook dadelik na die toneel gegaan om verdere verwoesting te verhinder.
“Die Stad het ’n baie streng boombeleid. Net die parke-afdeling het die reg om bome (op munisipale grond) te snoei, of uit te haal. Niemand het die reg op ’n uitsig nie. Geen boom word gesnoei of uitgehaal vir ’n mooi uitsig nie,” sê sy.
Boete
Die saak is tans by die stad se regsafdeling waar ’n boete bereken word ingevolge die grootte van die boom en skade wat berokken is, en sal aan die skuldige party beteken word, sê Visser.
Deon Oosthuizen, wat in die wykskomitee dien, het ook sy misnoeë hieroor uitgespreek.
“Die bome neem oor ’n eeu om volwassenheid te bereik; dit is regtig hartseer dat iemand dit sou wil verwyder van ’n openbare plek vir hul eie gewin, en met geen ag vir wat die impak daarvan sou wees op die omgewing nie, of die ander inwoners nie,” meen Oosthuizen.
Visser sê die boom is op munisipale grond geleë.
“Dit was ’n pragtige boom. Dit gaan my verstand te bowe dat ’n mens so iets sou kon doen. Dit was so hartseer om te sien hoe voëls hul nessies vergeefs soek.
“Die enigste troos is dat die boom groter en sterker hieruit sal groei en dat, deur inwoners se optrede, die sondaar gekeer is om die hele boom uit te haal,” sê Visser.
Die Stad het in reaksie op TygerBurger se navrae gesê dat die voorval deur hul ontspanning- en parke-departement ondersoek word en dat die stappe wat geneem sal word, bepaal sal word deur die uitkoms van die ondersoek. Daar is ook gevra wat met die boom gaan gebeur soos dit nóú lyk, waarop die departement aangedui het dat die boom eers nagegaan sal word.
Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die parke-departement kan bevestig dat die straf vir so ’n oortreding verskil – afhangende van die boom se grootte, die soort boom wat dit is, die hoogte daarvan, ouderdom en die plek waar dit voorkom.
“Hierdie faktore word saamgevoeg in ’n formule genoem die Hellwell-formule, wat dan die geldwaarde van die spesifieke boom bepaal,” sê Van der Ross.