Seniors by Huis Uitsig in Parow-Noord is onlangs deur lede van die WildBuggers Beach Buggy-klub bederf.


Inwoners van Huis Uitsig in M.E. Rothmanstraat, Parow-Noord, is onlangs bederf deur lede van die WildBuggers Beach Buggy-klub.

Dié klub het op Sondag 14 April die tehuis besoek en donasies aan die seniors gemaak. ’n Braai is ook vir hulle gehou.

Anton Kleyn, president, sê die geleentheid in die vorm van ’n welsynrit bekend as “Cruise for a cause” was ’n sukses. Die lede het die betrokke oggend vanaf Durbanville vertrek – altesame 25 duinebesies in ’n konvooi.

Hulle het die sowat 20 km via Uys Krige-rylaan en Lover’s Lane – ’n bekende uitkykpunt – deur Plattekloof- en McIntyre-weg en De Grendel-weg tot by die tehuis gevolg.

Die geleentheid is deur ’n inwoner van Huis Uitsig en lid van die klub, Ismail Abrahams, gereël, sê Kleyn.

Die donasies sluit in water, seep, room, skeerlemmetjies, toiletpapier en doeke vir volwassenes.

Kleyn sê 220 seniors is op die dag bederf. Die inwoners is ook in die duinebesies laat ry – iets waaroor hulle baie opgewonde was, sê hy.

Die kunstenaars Tommy Dell en Vos Reyneke het gesorg vir die musiekvermaak.

You need to be Logged In to leave a comment.