“Mamma, opskud, ons moet nóú ry!”
Dis Maandag 06:40, die derde keer wat my seun my aanjaag.
Eintlik moes ons 10 minute gelede in die pad geval het om die ergste verkeer vry te spring, maar ek is te besig om die hond, met my regterskoen in sy mond, om die eetkamertafel te jaag. Dis ook nie die eerste keer nie. Gewoonlik mik hy vir ‘n skoen (of sokkie) terwyl ek skaars een sokkie aan ‘n voet het, maar vanoggend vind hy ‘n ander gaping en gryp die skoen vinnig, reg onder my neus terwyl ek met die ander een se veters besig is.
“Mammmaaaa!”
Dit help ook nie dat ons 14-jarige net so pedanties soos volwasse “Sheldon” (dink Big Bang Theory-faam) kan raak nie. Maar, in dié geval is hy knaend met goeie rede … die verkeer.
Die hoërskool is ongeveer 7.2 km van waar ons woon geleë — aan die anderkant van die N1. Die ongeveer 2,5km vanaf ons huis tot waar ons die N1 oorgesteek het, neem enigiets tussen 20 en 45 minute, afhangend hoe laat ‘n mens ry. Slegs twee minute kan ‘n groot verskil maak. Dis nou ook as daar nie teëspoed langs die pad is nie. ‘n Ongeluk op die N1, ‘n vragmotor wat onklaar geraak het, of selfs net ‘n verkeerslig waarvan die oorslaantyd uit is, kan jou reistyd maklik met ‘n uur verleng.
Klink belaglik, nê. Maar dis die realiteit wat soveel ouers in die noordelike voorstede van Kaapstad in die gesig staar.
As jou kind gelukkig genoeg is om by die hoërskool van sy keuse aanvaar te word, of in sommige se geval, net ‘n plek in ‘n skool kry, is dit die prys wat jy betaal — ‘n uur of twee in die oggendverkeer.
Week na week sien en hoor ek mense kla — in briewe aan die koerant, op WhatsApp-groepies en ander sosiale media. Die probleem raak ook nie beter nie. Inteendeel, met al die woonstelblokke, komplekse en huise wat soos sampioene opskiet, raak die verkeer net meer.
Iemand stuur onlangs vir my skermgrepe van twee e-posse — die repliek van ons raadslid aan mense wat by hom oor die verkeersituasie gekla het. In die een raak hy aan die beplande R300-verlenging, asook die tekort aan openbare vervoer.
In die ander word daar sommer ook na die ouers vinger gewys: “… die hoeveelheid voertuie en ouers wat aandring om individueel hul kinders skool toe te neem, is deels verantwoordelik …”
Aandring? Ek sien rooi. Dit is nie my keuse om elke oggend meer as ‘n uur voor die skool begin my huis te verlaat en in die verkeer te sit nie. Ek doen dit omdat daar geen alternatiewe is nie.
Noord van die N1 is daar geen treindienste nie, Golden Arrow se busroetes is beperk en die busse loop nie gereeld genoeg nie. Die MyCiti-busdiens wat jare gelede vir die noorde belowe is, het nooit gerealiseer nie. Dit los ons met die taxi’s, en hier is geen twyfel nie; my kind se veiligheid kom eerste! So dan ry ek maar eerder self.
Toe hy nog in die laerskool was, het ek en ‘n ander mamma ‘n saamryooreenkoms gehad. Dit het uitstekend gewerk, tot hulle na verskillende hoërskole toe is.
Op wie se skouers rus die blaam? Ouers wat net die beste vir hul kinders wil hê? Ouers wie se kind ten minste ‘n plekkie in ‘n skool gekry het, al is dit nie om die draai van jou huis nie? Die tekort aan skole? Die gebrekkige openbare vervoer? Motoriste wat nie op die pad hoort nie? Verstedeliking? Paaie wat nie meer die verkeer kan hanteer nie? Paaie waarvan die opknapping vertraag word? Swak stedelike beplanning?
‘n Wyse man het gesê, “bring vir my oplossings, nie probleme nie”. Dalk is dit tyd dat ons minder vingers wys en kla, en eerder met oplossings vorendag kom.
In my opinie is Kaapstad is ‘n wêreldklas-stad — ‘n topbestemming met gebrekkige openbare vervoer. Dan kry Durbanville boonop ook nog ‘n lughawe. Dit is dus tyd vir die Stad Kaapstad om dringend in die noordelike voorstede in betroubare, gereelde openbare vervoer — soos die MyCiti-diens — te belê.




