Iemand moet verantwoordelikheid neem vir die gemors.
Dít is die boodskap van Samuel Sekepane van Mullerstraat in Palm Park, Eersterivier.
Sekepane sê hy worstel nou al ’n geruime tyd om seker te maak dat rommel, wat naby ’n kragboks in sy straat lê, verwyder word. “Dit is onnet en wys nie ’n goeie gesig van ons buurt nie. Die gras rondom die boks is ook onooglik lank,” sê hy.
Volgens Sekepane het hy al almal moontlik gebel om te help met die gemors.
“Die munisipaliteit sê dit is nie hul verantwoordelikheid nie, toe besluit ek om Eskom te bel. Op hul beurt aanvaar hulle ook nie verantwoordelikheid nie. Iemand moet tog verantwoordelikheid kan aanvaar.”
TygerBurger het Frans Sauls, raadslid vir die gebied, genader oor wat gedoen kan word.
“Ons maak weekliks plekke skoon, maar mense mors net weer. Inwoners moet weer trots ontwikkel vir hul woongebiede, anders veg ons ’n verlore stryd. Ek het onlangs weer pamflette laat druk om inwoners daaraan te herinner dat dit teen die wet is om rommel te strooi,” sê Sauls.
Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om die Stad te help om teen rommelstrooiers op te tree.
“As jy iemand sien wat rommelstrooi, neem ’n foto sodat daardie persoon vervolg kan word. Saam kan ons hierdie ding aanpak,” sê Sauls.
Sauls, wat ten tyde van die gesprek met TygerBurger siek en in die bed was, sê sodra hy op die been is, sal hy aan Sekepane se probleme aandag gee.
Inwoners kan hul klagtes stuur na Sauls by FransAnthony.Sauls@capetown.gov.za of 084 483 9217.





