’n Reeks werksessies is deur die Transnet Foundation Health Portfolio en Mobcow Entertainment gehou om leerders van die Hoërskool Kasselsvlei op te voed en te bemagtig oor kwessies soos geslagsgeweld geweld, seksuele en reproduktiewe gesondheid, geestesgesondheid en dwelmmisbruik.
Die sessies is gehou op Woensdag 31 Julie en Woensdag 14 Augustus, met ’n opvolgsessie beplan vir Woensdag 4 September in Kasselsvlei se skoolsaal.
Bewustheid, empatie en vaardighede
Dié reeks, georganiseer deur Marvin Levendal van Mobcow, is ontwerp om bewustheid, empatie en noodsaaklike vaardighede onder leerders te bevorder.
Levendal het die belangrikheid van die projek beklemtoon en gesê: “Ons doel is om ’n veilige en ondersteunende omgewing te skep waar studente toegerus voel om die uitdagings waardeur hulle in die gesig gestaar word, te bestuur.”
LEES | Hoërskool DF Malan vereer Amy Biehl
Die projek poog om respekvolle verhoudings te bevorder, begrip van persoonlike regte te verbeter en geestelike welstand te ondersteun.
Deur hierdie kritieke kwessies direk aan te pak, meen Levendal, “kan ons ’n betekenisvolle impak op hul welstand en persoonlike ontwikkeling maak”.
Kundige fasiliteerders by die sessies
Kundige fasiliteerders bied die sessies aan en verseker dat die inhoud ooreenstem met die kurrikulum en opvoedkundige doelwitte van Kasselsvlei.
Die sessies fokus op oop dialoog en konstruktiewe betrokkenheid, met die doel om stigma te verminder, bewustheid te verhoog en positief tot die skoolgemeenskap by te dra.
LEES | Spesialis-leersentrum open by Jan Kriel
In die eerste werksessie by Kasselsvlei het Cape Health ’n groep meisies oor gesondheidskwessies soos depressie, angs en ander geestestoestande ingelig.
In die ander hoek van die saal is die seuns gelei oor geslagsgeweld, menseregte en hoe om verantwoordelik in terme van hul menseregte op te tree, danksy fasilitering deur The Justice Desk.
Jeugbemagtiging
Shamona Kandia, hoof van die gesondheidsportefeulje by die Transnet-stigting, het uitgewys hoe die broodnodige ondersteuning ’n verskil kan maak.
“Om ons jeug te bemagtig met die kennis en vaardighede om hierdie dringende gesondheids- en maatskaplike kwessies aan te pak, is van kardinale belang.
“Die Transnet-adolessentegesondheidsprojek beliggaam ons verbintenis tot die bevordering van gesonde, ingeligte en veerkragtige gemeenskappe.
“Ons glo deur te belê in die welstand van ons jeug, belê ons in die toekoms van ons nasie.”
Deur die loop van die program word die vordering van die leerders gemonitor om ’n positiewe impak te verseker.
Deelnemers aan die program kry elkeen ook ’n waardigheidspakkie met ’n gesonde middagete, sowel as verwysingsdienste.
Diegene wat teen die einde van die program die meeste vordering toon, sal die geleentheid kry om verdere opvoedkundige of beursondersteuning van die Transnet Foundation Health Portfolio te ontvang.





