Ongeveer 65 werkers het deelgeneem aan die trollie-wedloop.FOTO: Jo Sekepane


Mike Russon, die visionêre leier van CT International in Goodwood, het opnuut bewys dat hy ’n werkgewer met ’n groot hart is deur sy werkers ’n unieke en onbaatsugtige aansporing te bied: ’n trollie-wedloop waarin hulle ’n paar minute gegee is om soveel items moontlik te gryp.

Die trollie-wedloop by CT International (CTI) het groot opwinding en lewenslus na die werkplek gebring, vertel Herschel Swarts, ’n werknemer van CTI.

Swarts sê die trollie-wedloop was ’n uitstekende aansporing wat CTI ingestel het.

“Dit het definitief bietjie lewe en opwinding gebring, want ’n mens werk so baie dat ’n mens op die ou einde vergeet dat jy ’n bietjie pret ook moet hê. Vir my persoonlik het dit baie gehelp omdat dit nog nie betaaldag was nie. Die goed wat ek kon vat, gaan my lekker help tot wanneer ek my salaris ontvang.”

Swarts het onder meer hoender, biefstuk, wors, toiletware en elektroniese toerusting ingesamel.

Sheila Sobili met haar goedere wat sy kon gryp gedurende die trollie-wedloop.FOTO: Jo Sekepane

Jennifer Telemachus, die restaurantbestuurder van Alluvia, het ook aan die trollie-wedloop deelgeneem. Sy beskryf die ervaring as baie opwindend en sê die adrenalien het beslis gepomp terwyl sy en die ander deelnemers twee minute gehad het om deur die winkel te hardloop en elkeen items ter waarde van R2 200 in te samel. “Dit het ’n groot verskil in my lewe gemaak en ek is baie dankbaar,” sê Telemachus.

Sy waardeer die aansporing en voel geseënd om deel van hierdie ervaring te wees.

Michelle Simpson, die takbestuurder by Checkers N1 City, waar die trollie-wedloop plaasgevind het, sê dit was die eerste keer dat sy so ’n gebeurtenis persoonlik beleef het.

“Dit was nogal opwindend om die mense te sien hardloop om binne die aangewese tyd te koop.”

Sheila Sobili, wat al vir byna 20 jaar deelneem, prys haar werkgewer, Mike Russon, as die beste ooit. “Hy doen baie vir die maatskappy en personeel. Hy is iemand met ’n goeie hart. As jy nie kos het nie, sal hy vir jou kos koop. Hy sal enigiets vir ons doen. Ek is geseënd om ’n werkgewer soos Mike Russon te hê.”

Werkgewer met ’n hart

Kriekie Swanepoel van die invorderingsafdeling by CTI deel ook haar waardering vir Russon.

Herschel Swarts en sy kollega na die trollie wedloop.FOTO: Jo Sekepane

Sy beskryf hom as ’n ongelooflike mens wat altyd na sy mense omsien. “Ek het ’n beroerte gehad by die werk, en hy het na my omgesien terwyl ek vir twee jaar by die huis gelê het. Hy het nog steeds my salaris en bonusse betaal. Wat ek waardeer van hom, is dat as jy jou werk doen, hy na jou kyk; hy dra jou. Hy is enig in sy soort, ek glo hy is ’n Jesus-kind. Sy geboortedatum is 25 Desember; dit sê alles.”

Russon word verder geprys vir sy welwillendheid en bereidwilligheid om terug te gee aan die gemeenskap.

Hy het self ook ’n trollie vol goedere ingesamel en gesê dit moet aan liefdadigheid geskenk word.

Kriekie Swanepoel en ander deelnemers aan die trollie-wedloop.FOTO: Jo Sekepane

Swanepoel beskryf hom as ’n “baas met ’n hart” en iemand wat die geluk en welstand van sy werknemers op die hart dra.

Ongeveer 65 werknemers het vanjaar aan die trollie-wedloop deelgeneem, en daar is sowat R200 000 spandeer. Hierdie gebaar het groot waardering van die werknemers ontvang en het gehelp om hul moreel by die werkplek te verhoog.

You need to be Logged In to leave a comment.