’n Brand in Bonteheuwel het twee wendyhuise verwoes.


’n Bejaarde man van Bonteheuwel is verlig dat nie een van sy familielede ernstig beseer is toe ’n brand verlede week twee wendyhuise in sy agterplaas verwoes het nie.

Edwin Lucks (70) sê hy het Vrydag vonke by die wendyhuis, waarin sy seun en dié gesin woon, gesien en gaan ondersoek instel.

“Toe ek weer sien, was die wendyhuis in ligte laaie. Ek het nog van die goed probeer red, maar kon net ’n televisiestel uitkry voordat die brand te erg versprei het en ek moes vlug. Ek het ligte brandwonde aan my hande opgedoen,” sê Lucks.

Reg langs Lucks se seun se huis was dié van sy 65-jarige broer en dié se lewensmaat en die brand het daarheen ook versprei.

“Buiten die televisiestel het die twee gesinne alles verloor. My seun het nog onlangs ’n splinternuwe wasmasjien gekoop en dit is ook verwoes. Die bure aan die agterkant het ook skade opgedoen en die elektrisiteit na die hoofhuis was vir dae af,” sê Lucks.

Volgens hom het die brand nie hul gees gedemp nie; inteendeel – dit het hul geloof in die mensdom herstel.

“My hart swel van blydskap om te sien hoeveel mense hul harte en beursies oopgemaak het om ons in hierdie tyd by te staan. Mense het van so ver as Ravensmead gekom met beddegoed, eetgerei en klere. Daar is te veel mense om voor dankie te sê dat ek bang is ek laat een uit, so, ek wil net almal wat ’n bydrae gelewer het – hoe gering ook al – bedank,” sê Lucks.

Angus Mckenzie, ’n plaaslike raadslid, sê hy is bly niemand het seergekry nie.

“Ons is baie bly vir ons nooddienste wat so vinnig gereageer en die brand in bedwang gebring het voordat dit verder versprei het,” sê Mckenzie.

  • Mense wat graag nog wil help om die slagoffers by te staan, kan Lucks by 067 9555 896 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article