Boekliefhebbers het baie om na uit te sien met ’n keur van Afrikaanse boeke wat die afgelope paar maande die rakke getref het.
Weskus-Omnibus 2, Helena Hugo
Helena Hugo het al verskeie topverkopers soos Haar naam is Ragel, geskryf. Sy is ook ’n suksesvolle regisseur en skrywer van radiodramas en -vervolgverhale.
Haar Weskus-Omnibus 2 bevat twee inspirerende topverkoper-romans in een omnibus.
In die eerste roman, Ter wille van Talita, volg ons die verhaal van die Van den Heevers, wat hulle eenkant hou, maar in die kollig beland wanneer Theuns van den Heever nie wil hê sy dogters moet aan ’n Kersspel deelneem nie.
In Haar ma se kind is Dania Pietersen die susterskind van Dora en Jonnie. Die modelkind bly by hulle en word sestien. Dora en Jonnie kan dit dan nie meer ontken nie: Dania hoort nie by hulle nie – sy is haar ma se kind.
Onder Water, Henda Olivier

In Henda Olivier se tweede roman, Onder Water, maak ons kennis met Rebekkah Keller. Sy was nog ’n tiener toe haar pa oorlede is. Om aan die knaende verdriet te ontsnap begin sy lengte ná lengte vryslag in die skoolswembad swem. Eindelik word sy gekies as lid van die hoërskool se swemspan.
Meer as 20 jaar later woon Rebekkah steeds in Bloemfontein. Sy is geskei van haar man, Hannes, vir wie sy eintlik baie lief is. Sy werk voltyds as ’n assistent by ’n prokureursfirma, en sy swem nooit meer nie.
Een oggend stuur Rebekkah se beste vriendin, Lena, vir haar ’n nuusberig wat die mat onder haar voete uitruk. Al die herinneringe aan haar grootwordjare, wat sy so lank onderdruk het, spoel soos ’n fratsgolf oor haar.
Drome het ook asem, Helene de Kock

Hierdie boek is Helene de Kock se 44ste roman. Daarin is Duncan Weston die eienaar van die spoglandgoed Soeterwijn in die Boland en hy voel of hy uit homself kan stap – heeltemal weg van alles en almal wat hy ken. Ongeag die sukses wat hy as wynmaker en nuutverkose stadsraadslid geniet, voel hy steeds leeg. Hoe kan ’n mens alles hê en tog voel asof jy niks het nie? ’n Vakansie weg van sy alledaagse roetine is wat hy nou nodig het.
In Rome wag dr. Isabel Haasen hom op die lughawe in. Dié opvlieënde blondekop het haar pos as dosent in Engelse letterkunde aan Oxford prysgegee om private lesse aan Italianers te gee. Ondanks haar kil houding voel Duncan intuïtief tuis in haar geselskap, maar daar is iets agter daardie stormagtige turkoois oë en klokhelder stem wat sy vir die wêreld wegsteek … iets wat sy al te lank alleen dra.
Drome het ook asem se karakters en intrige beloof om lesers te boei en te betower. Dis ’n fyn genuanseerde verhoudingsroman vir volwassenes.
Nogtans-geloof, Ivor Swartz

Hoe hou ek vas aan God terwyl my en ander se ervarings nie hoop weerspieël nie?
Ivor Swartz, bekende jeugpredikant van Pretoria, lei ons om aan die hand van Habakuk 3:17 te vra hoe lyk ’n nogtans-geloof gebedslewe, hoe praat en leef ek voor ander met my nogtans-geloof en hoe bly ek geanker in God, eerder as die uitkoms?
Ivor leer ons om ’n nogtans-geloofsuitkyk toe te pas, deur te kies: Kies om te lewe vir wat ewigheidswaarde dra, kies om ons perspektief te verander na nogtans-geloof in tyd van krisis en om te reageer op ’n nogtans-manier. Dis ’n inspirerende boek wat hoop gee.
Bessie se hangkasbiblioteek, Madelein Rust

Bessie Botha, deesdae weduwee Botha, woon saam met haar broer Willem op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein. Die jaar 1974 was tot dusver nie ’n goeie jaar nie, en om alles te kroon is oorlede Stefaans se welgestelde broer en sy jong neus-in-die-lug vrou op pad om te kom kuier.
Bessie ontferm haar oor al wat kind en dier is in die gemeenskap. Sy meng ook graag by ander se sake in wanneer dit lyk asof Dominee of Gezina, die nuwe voorsitster van die sustersvereniging, nie hul kant bring nie.
Wanneer die 14-jarige Annatjie de Villiers weer een Sondag ná kerk langs die treinspoor staan en flikkers gooi vir al wat ’n masjinis is, besluit Bessie om die meisiekind ’n boek in die hand te stop sodat sy kan léér waar babas vandaan kom.
Bessie se hangkasbiblioteek is propvol heimwee en humor, met uiteenlopende karakters net so kleurryk soos die boeke in Bessie se spaarkamerhangkas. Dis Madelein Rust op haar beste!
Borrelgom, Jana du Plessis Müller

Bea Malan, oftewel, Koningin Bea, word met ’n skok van haar troontjie afgestamp wanneer haar ma die nuus breek dat sy en haar pa gaan skei en dat hulle na Johannesburg verhuis. Groot poef emoji.
Hier is alles en almal anders as in haar geliefde Stellenbosch, waar sy die hoof van haar swerm was. Nou moet sy sink of swem tussen vreemde kinders in ’n stad wat sy nie ken nie en ’n skool wat sy nie verstaan nie. Maar namate Bea se geheim al swaarder op haar druk, beweeg sy nader daaraan om nuwe mense – en dinge – in haar lewe toe te laat.
Selfs ook die rondloperkat Kol, die ligstraal-emoji Lea en die verantwoordelike Daniël.
Maar Bea is nog lank nie gereed om te dans nie, en besef dat sy sal moet grootword as sy nie wil toelaat dat die lewe haar soos borrelgom kou en uitspoeg nie.
Geroep vir tye soos hierdie, Farren Cloete

Farren Cloete is die dominee van die pienk kerk op Lambertsbaai en ook ’n bekende TikTok-ster en smaakmaker.
Sy vertel op haar eie kaalvuismanier van die soet en die suur in haar lewe.
Farren is geroep vir ’n tyd soos hierdie, maar wys vir jou op jou roeping ook: dit maak nie saak wat mense sê nie, as God jou geroep het, kan geen mens jou keer nie en jy hoef aan niemand rekenskap te gee nie. Farren kom maak ons vry daarvan dat ons dink ons moet ander gelukkig maak, en help ons om te fokus op wat God van ons wil hê. Dit maak nie saak hoe moeilik ons roeping is nie, of ons opgewasse voel daarvoor of nie, God is by ons en Hy roep ons vir ’n tyd soos hierdie.


