Sy het dalk nou nie die eerste plek in vanjaar se Ierland Junior Eurovision-kompetisie losgeslaan nie, maar dit keer nie vir Niamh Beatrix Smith nie.
Smith (12), voorheen van Welgemoed, het in Oktober die top-drie van dié gesogte kompetisie gehaal, maar moes uiteindelik die knie voor Jessica Mckean buig.
Ierse media het na afloop van die kompetisie gesê dit was ’n naelskraapse oorwinning.
Mckean gaan Ierland nou in Nice in Frankryk verteenwoordig, waar die Junior Eurovision-kompetisie gaan plaasvind.
Niamh het egter nog baie om oor te glimlag, veral die beoordelaars se positiewe terugvoer. Dié het onder meer gesê sy is die “volle pakket”, “is soos ’n jong Adele,” “is cool en het ’n unieke styl”.
Sy beweeg egter al klaar na nuwe hoogtes en gaan haar eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit, “Kersfees in die vreemde”, vir die Kerstyd vrystel.
“Hoewel Niamh duidelik ’n diep liefde vir Ierland het, het sy nie haar Suid-Afrikaanse wortels vergeet nie,” sê haar ma, Alda.
Die gesin het vyf jaar gelede, toe Niamh agt was, na Ierland verhuis.
Die liedjie word ten bate van Reach for a Dream Suid-Afrika vrygestel.
“Ek het Reach for a Dream gekies omdat die liefdadigheidsorganisasie ’n onvergeetlike verskil maak in die lewens van kinders met lewensgevaarlike siektes – kinders wat baie dikwels Kersfees in die ‘onbekende’ moet deurbring.”
“Niamh se Kersliedjie versmelt Keltiese en Suid-Afrikaanse klanke op ’n unieke manier,” sê die vervaardiger van “Kersfees in die vreemde”, Riaan Steyn van Traxtudio, Kaapstad.
Die Suid-Afrikaanse Jeugkoor sing ook in die liedjie. “Dit gaan oor hoe Kersfees, soos musiek, mense bymekaar bring – ongeag kultuur, land of taal,” sê Niamh.
“Niamh is die toonbeeld van hoop en haar moed om voort te gaan om haar en ander se drome ’n werklikheid te maak, is inspirerend,” sê Natalie Lazaris, besigheidshoof by Reach for a Dream.
“Ons is dankbaar dat sy gekies het om die Reach for a Dream Foundation te ondersteun met haar musiek, aangesien dit diegene wat hul grootste stryd stry, sal help om hul drome te verwesenlik. Ons is ten volle agter Niamh en sien daarna uit om haar deur hierdie ongelooflike reis te ondersteun.”
Niamh en haar gesin gaan ook vir die eerste keer sedert hulle Ierland toe getrek het vanjaar Kersfees in Suid-Afrika deurbring.
Niamh Beatrix se Kersfees-enkelsnit, “Kersfees in die vreemde”, kan tans van alle groot platforms gestroom word.