’n Bekende sakeman in die noordelike voorstede van Kaapstad, Bessie Bester, is verlede Donderdag omstreeks 12:45 dood in ’n botsing met ’n petroleumgas-tenkwa op die Weskuspad naby Mamre.
Bester, wat in Vredekloof gebly het, was die eienaar van die sakeonderneming Bessie Bester Vervoer.
TygerBurger verneem dat Bester volgens die vragmotorbestuurder, wat nie ernstig beseer is nie, glo beheer oor sy Daihatsu Sirion verloor het.
Hy is op die toneel dood verklaar deur paramedici.
Die tenkwa, wat 10 000 liter hoogs vlambare vloeibare petroleumgas vervoer het, het in die pad omgeslaan en die hoërisiko-toneel is met ’n radius van 3 km afgesper om ’n moontlike ontploffingsone te versag.
Die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingspersoneel is dadelik na die toneel ontbied en moes in die ontploffingsone werk om te verseker dat daar nie enige gasdampe uit die tenkwa lek nie.
“Gespesialiseerde tegniese reddingstoerusting moes gebruik word om vonke te voorkom,” sê JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid.
Reddingspersoneel het op die toneel gewag vir die kontrakteur om die petroleumgas uit die tenkwa te verwyder.
Dié na aan hom vermoed Bester, ook ’n oudspeurder in Kaapstad, was ten tye van sy dood onderweg na Dwarskersbos, waar sy ma woon.
Vanessa da Costa, sy besigheidsbestuurder, sê sy dood word betreur. “Mense was lief vir hom. Hy was ’n groot man met ’n groot hart, ’n goeie ou. Hy was altyd bereid om mense in nood te help en daarvoor moet hy vereer word. Hy het baie hard gewerk – dag en nag om dié nuwe besigheid op die been te kry,” sê sy.
Bester was vroeër die eienaar van die Withuis Sosiale Klub in Vredekloof. Die besigheid was egter genoodsaak om sy deure toe te maak tydens die pandemie nadat Bester vir bykans twee maande met Covid-19 in die hospitaal aan ’n ventilator gekoppel was.
LEES OOK l Bekende sakeman van Brackenfell, Bessie Bester, sterf in botsing met tenkwa op die R27
Huldeblyke het sedert die ongeluk op sosiale media ingestroom.
“Bessie was ’n ‘legend’ in Brackenfell,” skryf Marie Antoinette Vos.
Ook Liezl Rover Smith het haar meegevoel betuig. “Dis baie hartseer nuus. Hy was welbekend en baie geliefd in die noordelike voorstede. Baie sterkte aan sy familie. Ons dink almal aan julle.”
Rinette Maritz skryf “Bessie was die een wat ons kon vertrou om ons betyds by die lughawe te kry. Altyd stiptelik en vriendelik. Rus in vrede, Bessie.”
Pauline Deetlefs Botha skryf: “Hy was ’n goeie mens, saam met hom gewerk by Kaapstad-Sentraal-speurtak. Was vir my ’n groot skok. Rus sag Willem.”
Gerrie Roos skryf: “The Cape will be empty without you Bessie. Rest in peace my friend, you were a big star.”
Bester was ook vir langer as 20 jaar welbekend in motorsportkringe – eers as ’n renjaer in die GTi Challenge en Golf Clubmans by Killarney en daarna as sponsor en mentor. “Hy was lief vir karre en was lief om te bestuur. Hy was lid van die Killarney-familie vir baie jare. Sy dood is hartverskeurende nuus vir ons,” het die Killarney-resiesbaan op sy sosiale media-blad geskryf.
Bester word oorleef deur sy dogter, Nicole (24), sy ma, Magda, sy broer Francois, sy skoonsuster Letitia en hul twee dogters.