Met twee wedvlugte agter die blad – een vanaf Laingsburg en die ander vanaf Leeu-Gamka – is sowat 14 000 wedvlugduiwe Donderdag in Kaapstad in mandjies geplaas en na Beaufort-Wes vervoer vir die wedvlug wat Saterdag plaasgevind het.
Die posduiwe het die afstand van 400 km terug na hul hokke in Kaapstad in minder as vyf ure afgelê.
Die driemalige en huidige unie-kampioen, Martin van Staden van Vredenberg in Bellville, sê daar is niks lekkerder nie as wanneer jy vir voëls in ‘n wedren wag en skielik sien jy hulle uit die lug uit neerdaal.
LEES | Kry die nuutste uitgawe van jou TygerBurger hier
Van Staden het groot sukses behaal in 2023 met sy drie kampioenduiwe toe hy met die trofees van die Stellenberg- en Bellville-klubs in die Noordweg-duiwe-unie weggestap het.
Martin, wat al 40 jaar duiwe vlieg, is sedert sy kinderdae betrokke by die sport onder leiding van sy pa, wat ook ’n duiweboer was.
Nes enige ander sport, sê hy, is baie aspekte daarby betrokke – van die regte dieët tot ’n korrekte oefenplan.
Dit begin met ’n veilige, netjiese hok.
sê hy.
“As die kuikentjies sewe dae oud word, plaas jy ’n identifikasie- ringetjie om sy voet, wat vir altyd daar bly. Dit kan nie afgehaal word nie. Dit is die duif se identiteitsnommer. Dit is uniek en net een ring met daardie nommer word ooit uitgereik.”
Die ringetjie bevat inligting met ’n jaartal, unie- of klubnaam, asook die nommer van die duif en ’n telefoonnommer as die duif verlore sou raak.
Aardmagnetisme
Op 30 tot 40 dae ouderdom begin die jong duiwe vlieg en kom altyd terug na hul hok as hulle klaar geoefen het.
Daar is verskeie teorieë oor hoe die posduif sy weg oor honderde kilometers terug na sy presiese hok vind. Die mees algemene is instink, aardmagnetisme en navigasie deur middel van die son.
“Elke duif word dan met ’n elektroniese RF-ID-ring aan sy ander poot gering. Die elektroniese ring se nommer word gekoppel aan die duif se identiteitsnommer en ook gekoppel aan ’n elektroniese klok se databank. Hierdie klokke hou baie akkuraat tyd,” verduidelik hy.
Op Donderdagaande word die duiwe vir die wedvlug almal met behulp van ‘n klubstelsel en jou klok in mandjies ingekorf en op ’n vragmotor na die wedvlugpunt vervoer. Hulle word dan op die Saterdagoggend op ’n spesifieke tyd gelyk losgelaat.
“Ons weet wat die begintyd vir die vlug is. As jou duif by sy hok aankom, registreer jou klok die duif sodra dit deur die klok geskandeer word. Ons kan dus bepaal wat die totale vliegtyd vir elke duif is. Ons bepaal ook met ’n GPS wat elke hok se koördinaat is, derhalwe kan ons die presiese afstand van die loslaatpunt tot by elke hok tot op ’n meter bepaal.
Die afstand gedeel deur die vliegtyd van ’n duif, bepaal sy spoed,” verduidelik hy.
Die wenner van die vlug is die duif met die hoogste spoed. Die kampioenskap word gewoonlik op ’n puntestelsel uitgespook waar die wenner oor ’n seisoen die eienaar is met die meeste punte oor die 20 weke.
Volgens Martin was die gemiddelde wenspoed oor die laaste drie weke tussen 85 km/h en 90 km/h.
sê Martin.
Die afgelope naweek het sy jongduif die wedvlug vir die Stellenberg-klub gewen met ’n gemiddelde spoed van net meer as 90 km/h.





