Terwyl die inwoners van Kaapstad wurg aan een van die ergste droogtes en elke druppel met agting bejeën, het ’n inwoner van Durbanville soveel water wat uit sy boorgat stroom, dat hy dit verniet aan almal in sy buurt met ’n waterkan gee.
Die inwoner, wie se naam en adres weerhou word op sy versoek om hom en sy gesin te beskerm teen middernagtelike watersoekers, het ’n boorgat laat boor. So ’n paar dae gelede het die boormaatskappye water raakgeboor – met water só in oorvloed dat dit al die afgelope drie dae teen sowat 200 liter per minuut uit die boorgat straat-af stroom. Kristalhelder water.
Die “wonderwerk” het egter gou sy tol geëis toe die inwoner eers deur sy bure uitgekryt is vir sy “watervermorsing”, en nadat hy die oord versprei het dat mense kan kom water haal, nou enige tyd van die dag of nag opgeklop word vir water.
Terwyl TygerBurger daar was, het talle mense met kanne daar stilgehou om water te kry – ongelukkig ook meer gulsiges wat sommer met ’n hele met reuse-watertenk op ’n treiler daar stilgehou het om hulself aan water te help.
Onder die planmakers was Pieter Bedeker (links) en Marius Maas van The Crest bewys toe hulle ’n pomp ingespan het om die boorgatwater wat in ’n drein ophoop, in tenks te pomp. Teen vanmiddag omstreeks 15:30 het hulle reeds twintig 1000 liter-tenks volgetap!
Volgens die inwoner was die dik stroom water selfs vir die boorgatfirma onverwags en word daar nou planne beraam om dit te stop.