Boeliegedrag is weer op die voorgrond.
Boeliegedrag is weer op die voorgrond.

Vir Anna Beukes* is dit moeilik om oor haar kind se ervaring te praat, maar sy glo dit is die beste ding om te doen.

Beukes het met TygerBurger gepraat na aanleiding van gebeure by die Hoërskool Milnerton in Kaapstad, waar ‘n groep seuns ‘n ander in die kleedkamer boelie. ‘n Video van die voorval het op sosiale media die ronde gedoen en die betrokke leerders het in die hof verskyn. Die saak is tot volgende jaar uitgestel.

Beukes se dogter Valecia* is jare lank by haar hoërskool geboelie en toe boeliegedrag weer die afgelope paar weke die nuus oorheers het sy, volgens haar ma, terugflitse gekry.

Skrander leerder

“Valecia was ‘n skrander leerder toe ons haar by die betrokke skool ingeskryf het. Sy het uitgeblink in akademie, sport en kultuur en omdat nie een van ek en haar pa by goeie skole was nie, het ons alles in ons vermoë probeer om haar by daardie skool in te kry. Hoewel ons nie in die buurt van die skool bly nie, het sy wel plek gekry en ons was in ekstase,” sê Beukes, wat verkies om anoniem te wees omdat haar dogter tans aan ‘n universiteit studeer en sy haar nie wil blootstel nie.

Volgens Beukes het wat hulle as ‘n droom beskou het sommer in die eerste kwartaal van haar dogter se hoërskoolloopbaan in ‘n nagmerrie ontaard.

“Sy was bietjie mollig en is vroeg in die eerste kwartaal reeds daaroor gespot. Vandag kan ek myself skop omdat ek nie haar eerste klaagliedere ersntig opgeneem het nie. Ek het haar klagtes afgemaak as groeipyne en dat kinders maar mekaar spot. My woorde was dat sy nie so sensitief moet wees nie. Min het ek geweet hoe wreed kinders kan wees,” sê Beukes.

Oor ‘n tydperk van twee jaar het haar eens sprankelende dogter haarself al hoe meer van almal en alles onttrek.

“Weer eens het ons dit net as groeipyne en tiener-wees afgemaak. Sy het ophou kla en haar skoolwerk het agteruit gegaan. Sy het aan niks meer buitemuurse aktiwiteite deelgeneem nie. In graad 11 het sy weer die moed bymekaar geskrap om ons te vertel waarmee sy worstel en ek het uitgebars in trane.

Stink

“Sy is gespot, verneder en soms ook aangerand. Twee leerders het aan die ander kinders vertel sy stink en dat ander leerders haar moed vermy.

“Dit het haar selfvertroue so geskaad dat sy selfdood oorweeg het. Nadat sy gepraat het, was ons skool toe en het die skool ingegryp.

“Die boelies is geskors, maar ek het gevra om met hulle en hul ouers te praat en wat ek uitgevind het is dat ‘hurt people, hurt people’. Elkeen van daardie boelies het ‘n pyn en woede in hulle gedra, wat hulle op ander uitgehaal het. Almal het hulp ontvang,” sê Beukes.

Haar en haar dogter se storie het ‘n positiewe nadraai gehad en daarom hoop sy almal wat by die Milnerton-geval betrokke is, sal die hulp kry wat hulle benodig.

“Hoewel dit pynlik is en blywende letsels laat, moet ons hoop koelkoppe seëvier. As alles reg hanteer word, kan almal betrokke as heel mense ander kant uitstap. Dit is waarvoor ek hoop.”

(* Skuilname is gebruik om identiteite te beskerm.)

You need to be Logged In to leave a comment.