Besit jy die huis waarin jy woon, of ’n ander eiendom? Weet jy wat eendag daarmee sal gebeur wanneer jy sterf?
Met dié dat 70% van Suid-Afrikaners nie ’n geldige testament het nie, is hierdie ’n sleutelvraag vir duisende huiseienaars in ons land.
Huiseienaarskap kan ’n goeie manier wees om jou finansiële toekoms te verseker. Dit kan ook ’n waardevolle bate wees wat jy as deel van jou nalatenskap aan die mense vir wie jy omgee, agterlaat. Maar indien jou eiendom nie in jou testament bemaak is nie, of die bemaking nie korrek gestipuleer is nie, kan jou geliefdes en erfgename onaangenaam verras word, met ingrypende implikasies vir hul toekoms.
“Boedelbeplanning kan jou help om hierdie slaggat te vermy en seker te maak dat die oordrag van die eiendom na die nuwe eienaar glad verloop.
“Sodoende kan jy gerus wees dat jou wense uitgevoer word, en jou nalatenskap veilig is,” sê Carl Coetzee, besturende direkteur van Capital Legacy.
Het jy ’n testament?
Daar is vyf belangrike vrae om te beantwoord wanneer jy ’n eiendom besit.
As jy ’n huiseienaar is, maar nie ’n geldige testament het nie, behoort hierdie jou eerste stap te wees.
“Om ’n basiese testament op te stel, is waarskynlik vinniger, makliker en eenvoudiger as wat jy verwag,” sê Coetzee.
“ ’n Testament is een van die belangrikste dokumente wat jy ooit sal opstel. Indien jy sonder ’n testament sou sterf, sal jou erfgename intestaat erf. Dus, jou bates en nalatenskap sal volgens wet verdeel word en nie noodwendig volgens jou wense nie.”
Wat sê die wet oor huwelik?
Indien jy getroud is, kan jou soort huwelik jou regte beïnvloed in terme van wat met jou eiendom gebeur wanneer jy sterf. Die twee mees algemene soorte wat gewoonlik in Suid-Afrika in hierdie verband in ag geneem word, is:
- Binne gemeenskap van goedere: Jou eggenoot besit die helfte van die eiendom, selfs al laat jy dit na aan ’n derde party, soos byvoorbeeld ’n kind.
- Buite gemeenskap van goedere, met aanwas: Jou eggenoot kan ’n eis teen jou boedel instel vir sy of haar deel van die aanwas. “Indien dit ’n wesenlike eis is, kan dit noodsaak dat die eiendom verkoop moet word. Dit kan sake meer ingewikkeld maak, en jou boedel laat langer vat om af te handel,” sê Coetzee.
In Suid-Afrika kan kinders onder die ouderdom van 18 (minderjariges) nie direk erf sonder die bystand van hul wettige voog nie. “Nóg ’n rede om seker te maak dat jy ’n geldige testament het, en dat jy daarin voorsiening maak vir ’n testamentêre trust,” sê Coetzee.
Dié soort trust stel die trustees in staat om die bestuur van die eiendom namens jou minderjarige kind of kinders te behartig.
Indien daar nie ’n testamentêre trust is nie, sal jou minderjarige se wettige voog vir die eiendom verantwoordelik wees. As jou eks byvoorbeeld die voog is en julle twee was betrokke in ’n bittere egskeiding, kan dit maklik daartoe lei dat jou wense nie uitgevoer word nie, of dat jou kind se beste belange nie op die hart gedra word nie.
’n Testamentêre trust word dus alom beskou as ’n goeie manier om eiendom aan kinders na te laat.
Is daar ’n huislening?
Die ideale manier om ’n eiendom as deel van jou nalatenskap oor te dra na ’n nuwe eienaar, is om seker te maak dat daar niks verskuldig is nie (’n “onbeswaarde bate”, soos die wet dit noem). As daar egter ’n huislening is, is dit belangrik om voorsiening te maak vir die verband om afbetaal te word wanneer jy sterf, gewoonlik by wyse van lewensversekering.
“Die eksekuteur van jou boedel sal dan hierdie dekking gebruik om die totale uitstaande huisleningbedrag te vereffen voordat die eiendom aan jou erfgenaam oorgedra word,” sê Coetzee.
Indien daar ’n huislening is en geen lewensdekking nie, kan jou erfgenaam besluit om die verband oor te neem, pleks daarvan dat die eksekuteur die eiendom verkoop. Maar dit kan tyd neem, omdat jou erfgenaam eers vir ’n huislening sal moet kwalifiseer deur al die nodige dokumentasie te voorsien en aan die bank se vereistes te voldoen.
SARS hef nie hereregte wanneer ’n eiendom as erfporsie aan ’n nuwe eienaar oorgedra word nie. “Dit beteken egter nie dat geen ander koste daarby betrokke is nie,” sê Coetzee.
Jou boedel sal steeds aanspreeklik gehou word vir oordragkoste, aktekantoorfooie en belastingsertifikate. As die eiendom in ’n deeltitelskema is, sal jy ook ’n heffingsertifikaat nodig hê, wat gewoonlik deur die maatskappy wat die eiendom bestuur, verskaf kan word.
Elektriese sertifikate en ’n kewersertifikaat word nie vereis wanneer ’n eiendom uit ’n boedel oorgedra word nie. “Sonder die nodige dokumentasie sal die oordrag van jou eiendom sloer. Maak dus seker dat daar voldoende geld in jou boedel beskikbaar is om die nodige sertifikate te verkry en sodoende vertragings te vermy,” sê Coetzee.
’n Wenk om in gedagte te hou wanneer jy ’n eiendom wil nalaat: Moenie die adres van die eiendom in jou testament sit nie. Verwys bloot na jou “residensiële eiendom” wanneer jou testament opgestel word.


