Dis weer daai tyd van die jaar wanneer almal hoop dat tyd ‘n klein bietjie vinniger kan aanbeweeg.

Dit was ‘n lang jaar; mense is moeg en wil gaan rus.

Kersfees is om die draai en die feestyd begin oor minder as ‘n maand. Die Kersfeesversierings is op en Michael Buble, Boney M en Mariah Carey se bekende Kersliedjies speel weer binnekort oral in elke winkelsentrum.

Ek is bly dat die feestyd aangebreek het en sien baie uit daarna. Maar om eerlik te wees, ek wens soms dat die tyd ‘n bietjie stadiger kan stap.

Ek het so baie dinge gehad wat ek graag vanjaar wou gedoen het, maar 2025 het gekom en gegaan. Dalk aanstaande jaar? Maar ek weet vir ‘n feit 2026 gaan ook seker in ‘n oogwink verbygaan. En voor ons dit weet, is dit al weer tyd vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2027.

Waarom gaan die tyd so gou, wonder ek soms. Ek is seker ek is nie al een wat dít wonder nie.

Dit voel soos gister toe ons nog laas om die Kerstafel gesit het en crackers oopgeskiet het, geskenke oopgemaak het en as ‘n familie saamgekuier het. Dit voel soos gister toe ek my vrou en seuntjie ‘n soentjie en drukkie gegee het en gesê het “Voorspoedige Nuwejaar”. Ek kan dit nog so duidelik onthou.

My seun se skooljaar in graad 2 vanjaar het ook gevlieg.

Die arme klong het nog nie eens sy onderwyser gewoond geraak nie, en daar kry hy ‘n nuwe een.

My vrou het vanjaar studeer, en vandeesweek haar laaste eksamen afgelê. Ek weet uit ervaring dat wanneer mens studeer, die tyd geneig is om nog vinniger aan te beweeg.

Ek weet ek is nie al een wat ‘n jaar begin met groot planne nie. Ek weet baie mense stel doelwitte vir hulself aan die begin van die jaar — sogenaamde Nuwejaarsvoornemens — maar haal dit nie. Dis doelwitte wat binne ons bereik is, maar die tyd laat ons dit net nie toe nie.

Dis nie omdat ons lui is nie, maar die realiteit is ons almal werk; kinders het skool, sport, huiswerk en dan is daar familie en vriende vir wie ons moet tyd maak. Ons het side hustles, stokperdjies en behoort aan of een of ander buitemuurse- of kerkklub wat ons tyd in beslag neem.

My plan vanjaar was om by een van daai klubs aan te sluit, om verder te studeer, fiks te raak, iewers heen te reis met my gesin en eintlik net meer tyd met my vriende en familie te spandeer, veral met my seun.

Ons samelewing is op ‘n hasepad êrens of iewers heen, voel dit soms vir my. Die hoogtepunt van baie mense se werksweek is die naweek wanneer ons vir twee dae kan afskakel, ‘n vuurtjie kan aansteek, ‘n glas wyn kan drink en sport kan geniet.

Vir ander wat die jaar hard gewerk het en byna geen breek geneem het nie, is daai hoogtepunt die feestyd, maar selfs die feestyd vlieg in ‘n oogwink verby.

Voor ons ons oë kan uitvee, is dit Junie 2026 en winter.

Ek weet dat die horlosie nie aangepas kan word nie en dat dit nie kan stilstaan nie. Tyd staan vir niemand stil nie.

Ek wens net soms dat die tyd net klein bietjie stadiger kan beweeg. Waarom? Behalwe vir dit wat ek reeds genoem het, is daar soveel dinge wat ek as ouer nog wil doen met my seun.

In ‘n dokumentêre program onlangs sê ‘n avontuurlustige aan die aanbieder, “ons het net een lewe, en dis nog nie eers 100 jaar nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.