Esmé Erasmus
Esmé Erasmus

Die vrou agter die kasregister grinnik toe ek die umleqwa-hoender op die toonbank sit om te betaal. Wat is so snaaks; wat is ‘n umleqwa-hoender dan? vra ek heel onskuldig. Free range, sê sy.

Maar al die hoenders in dié spoggerige supermark is dan tog free range, sê ek weer, die hoender nou klaar betaal. Ja, sê sy, maar hierdie hoender moet jy laaank kook, baie lank, mevrou. Dis dan seker die hoenders wat my ma ‘n plaashoender genoem het, met baie ontsag. Jy het nog nie ‘n hoender geëet as jy nog nie ‘n egte plaashoender geëet het nie – soort van ‘n statussimbool as dit by hoender eet kom, het sy my laat glo.

Dit laat my toe dink aan die kuikens wat my kinders, toe nog baie klein, by die Philadelphia-boerebasaar gekoop het met die R50 wat hul pa hulle in die hand gestop het om hulle besig te hou sodat hy by die potte kan kuier. Ek, wat laat gewerk het, was minder opgewonde oor die nuwe troeteldiere in die huis om te versorg.

Reputasie vir geriatriese diere

Meeste van die kuikens wat verkoop is, het dit seker nie eens ‘n dag of twee gemaak nie, maar ons huis het ‘n reputasie vir geriatriese diere. Maar daar is darem niks so oulik soos ‘n hoender vir ‘n troeteldier nie. Die kuikens het van kleins af op hul sye, nes mense, geslaap – nekkies lank uitgestrek op die kussings langs my slapende kinders. Braaikuikens wat hulle was, is hulle geteel om gou groot hoenders te raak – ná ‘n jaar te groot vir hul eie pote. Die een wat Petra gedoop is, begin selfs op sy oudag kraai en word toe Piet gedoop.

Die hoenders moet geslag word, sê my ma. So gaan die twee hoenders Moorreesburg toe… een geslagte hoender bly agter by die slagter as beloning, die ander ene netjies in ‘n plastieksak. Nee, sê my ma, so ‘n hoender is maar lekker taai, ek moet hom slaghuis toe vat om gerook te word.

Die slagter gee my hoender een kyk. “Mevrou, jy kan jou kalkoen oor ‘n week kom haal.” Nee, dis g’n kalkoen, dit het voor my eie oë as ‘n gewone hoender grootgeword, seg ek. Die slagter het tot die dag wat ek my hoender gaan haal het, volgehou dis ‘n kalkoen. Daar word besluit om die gerookte hoender te hou vir Kersdag. Gelukkig val my dogtertjie, wat hopeloos te vroeg begin loop het, en word ek al troostende dit gespaar om van Petra-wat-Piet-geword-het te eet.

Gespierde boudjies

Die aanwysings op die verpakking van die umleqwa-hoender sê dis vooraf stadig gekook – nog net 20 minute in die oond en hy is reg vir die tafel! Dis ‘n lenige, atletiese hoender. Lang maer dybene. Gespierde boudjies.

Na ‘n uur in die oond lyk die hoender egter nog niks meer eetbaar nie en ek sit die hoender in ‘n pot om dit behoorlik gas te gee. Die bykosse is al lankel opgepeusel, toe kook ta nog steeds! Dis later slaaptyd en ons gooi tou op.

Dis so koud, ek besluit om die hoender sommer net so in die pot oornag te los. Om 02:31 word ek wakker van ‘n reuk wat ruik na Afrika … gebrande pap, koeimis … ek droom van ‘n hoender wat in die vuil hooi in ‘n varkhok rondskrop agter kos aan …’n skrophoender. Ek smeer Vicks onder my neus dat ek nie die hoender kan ruik nie.

Watson, ons tuinman, lag toe ek hom die volgende oggend vertel van my hoender. “In Zimbabwe we call it a road runner,” sê hy – die groot kuns is glo nie net om hom sag gekook te kry nie, maar jy moet hom eers gevang kry! Dis daai hoenders wat in Afrika tussen karre deur oor die hoofweg hol dat die biesies bewe.

Ek loer weer in die pot voor ek hom vir Watson in tinfoelie toedraai … die arme hoender is nou al erg verinneweer gekook; lyk vir my toe al eerder na ‘n road kill.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article