Ware staatmakers in uur van nood

Op Dinsdag 20 Julie het my linkerhand in ’n fratsongeluk in die lem van ’n elektriese saag beland. Ek het met die bebloede hand voetgeslaan na die spreekkamer van dr. Camilla Moolman, waar ek sonder ’n afspraak opgedaag het. My opregte dank en waarde


Op Dinsdag 20 Julie het my linkerhand in ’n fratsongeluk in die lem van ’n elektriese saag beland. Ek het met die bebloede hand voetgeslaan na die spreekkamer van dr. Camilla Moolman, waar ek sonder ’n afspraak opgedaag het. My opregte dank en waardering aan haar en haar ganse personeel vir die bystand en hulp wat hulle aan my tydens hierdie krisis verleen het. My wonde is skoongemaak, bloeding gekeer, verbind, medikasie is teen pyn verskaf en baie moeite is gedoen om my gemaklik te hou totdat die ambulans (wat hulle gereël het) my by die spreekkamer kom oplaai het en hospitaal toe geneem het.

Ook my opregte dank aan drs. Brits, Kuhn en ander, sowel as hul personeel by Tygerberg-hospitaal, wat te midde van ander krisisse, ’n koelkopbenadering gehandhaaf het en ’n professionele diens en kalmte geopenbaar het.

Ook my opregte dank aan dr. Africa wat die volgende oggend tydens ’n operasie van bykans twee uur lank my hand weer letterlik “aanmekaargewerk” het. My hand het behoue gebly nadat daar aanvanklik sprake was dat gedeeltes van ’n vinger geamputeer sou moes word.

Ek begryp dat die woord “dankie” hol en leeg mag klink, maar ek wil u verseker van my opregte dankbaarheid en waardering. Dit kom diep uit die hart. U is inderdaad almal ware staatmakers in die uur van nood.


Dries de KockBothasig

You need to be Logged In to leave a comment.