Meestal is dit ‘n feesviering wanneer kinders 18 word en universiteit toe gaan.
Skape word geslag, die jongspan vier hul vryheid, en ouers is bly die kind is uit die huis sodat hulle rustig kan oud word.
Baie ander ervaar dit anders – dis nie altyd die maklike manier nie. Soms is dit een van die moeilikste besluite om jou ouerhuis te verlaat, veral as ‘n jong vrou in vandag se samelewing. Sekere ouers bel elke aand om te hoor of die kind oukei is, laai kos af en doen navraag omdat die kind sukkel om aan te pas.
Dan kry jy die res — diegene wat die eerste keer hul ouerhuis verlaat sonder dieselfde ondersteuning. Soms vir liefde, of omdat hulle gedwing word om hul eie potjie te krap weg van hul grootworddorpie. Hierdie gewoonlik so vroeg soos in hul tienerjare of vroeë twintigs – baiekeer om uit hul omstandighede uit te styg of omdat hulle gedwing word om elders oor te begin as gevolg van sekere gebeurtenisse.
Laasgenoemde, vir my, is waar jy “against all odds” moet veg om oorlewing. Wanneer jy eers uit is, is daar nie sommer terugkeerkans nie.
Wat beteken “against all odds” hier?
Wanneer jy jou ouerhuis verlaat om jou eie potjie te krap en te veg vir oorlewing, swaarkry en struikelblokke. Ons het nie daai luuksheid wanneer die lewe druk nie: “Ag my kind, kom huis toe” of “jou kamer staan leeg”.
Ons verlaat soms ons ouerhuis omdat daar nie meer ruimte is vir ons nie — ruimte om te groei en om te wees wie jy wil wees nie. Baiekeer omdat ons te veel hartseer ervaar het. Baie van ons ken niks anders as die “kleindorpie-sindroom” nie — om te “settle” en te trou, in toksiese verhoudings te bly, omdat jy glo jy is nie waardig vir beter nie of omdat jy nie weet daar is meer daar buite nie.
Terugtrek
Wanneer jy wel kans kry om uit te trek, is terugtrek nie ‘n opsie nie. Die ondersteuningstruktuur is nie daar nie, en teruggaan beteken jy moet sak na dieselfde ou omstandighede. Jy moet bereid wees om weer daai pyn en trauma in die gesig te staar — die redes hoekom jy in die eerste plek opgepak het.
Teen dié tyd het baie vriende al teen jou gedraai omdat jy nie “teenwoordig” genoeg is nie, min wetend waarteen jy alles moet veg om aan die lewe te bly.
Jou geestesgesondheid word hewig geraak, maar omdat jou glimlag nooit opdroog nie, lyk dit of alles “hunky-dory” is.
Dan staan jy maar jou man en veg “against all odds”.
Met ‘n emosiebelaaide hart moet jy jouself staande hou en heeltyd herinner: ek kan nie teruggaan na waar ek vandaan kom nie. Ek het nuwe dinge en ‘n nuwe ingesteldheid.
Hoe hard die lewe jou ook al slaan of hoe koud die winters raak, veg jy “against all odds”. Jy kies tussen jou vryheid en persoonlike ruimte teenoor waarnatoe jy sal teruggaan. Jy praat hard met jouself: al raak die lewe hoe moeilik, daar is nie ‘n manier dat ek kan opgee en teruggaan na alles wat ek agtergelaat het nie.
Hoe pak ‘n mens jou lewe in minder as ‘n uur op en besluit om alles agter te laat? “Against all odds” moet jy dit laat werk in ‘n wêreld wat jy later leer ken het — ‘n wêreld waar mense jou oordeel, waar jou val ander se vreugde is, en jou glimlag soveel emosies wegsteek.
Die beste manier om dit te laat werk, is deur biddend te bly en te glo daar is beter dinge vir jou in stoor. Dis nie maklik nie, maar ons hou aan glo dis die moeite werd en ons sal weer ons doel in die lewe vind.


