Ná ’n vlugtige trippie Johannesburg toe verlede week, het ek opnuut waardering vir hoe munisipale dienste in Kaapstad bestuur word.

Ja, ek kla ook maar gereeld – water en elektrisiteit is te duur (om nie eens te praat van daai simpel ekstra levies nie), die bome buite my huis kort ’n snoei, daar is ander paaie wat ’n nuwe lagie baie meer nodig het as dié waaraan hulle werk, ensovoorts.

Toe klim ek van die vliegtuig op O.R. Thambo-lughawe en soos ek agter in die hotel se bussie sit en wip (en wens dat hulle ons eerder in viertrekvoertuig opgetel het) – al die pad tot in een van die Goudstad se ryker buurte – besef ek hoeveel ons eintlik het om voor dankbaar te wees.

Oor die toestand van die paaie (en die donga’s, nie slaggate nie) hoef ek nie veel meer uit te brei nie, behalwe dat ek aanneem mense wat daar woon se versekering is hoër indien jy nie ’n viertrekvoertuig ry nie.

In Kaapstad word ons gras dalk nie gereeld genoeg gesny nie, maar ten minste word dit gesny. Dáár lyk dit asof niemand ooit aandag daaraan gee nie. In sommige plekke staan die gras en onkruid só hoog, ’n lang man sal staande daarin wegraak.

En hierdie is van die eerste goed wat ’n mens as toeris in die stad raaksien. Dit laat mens net wonder oor hoe power die res van die dienslewering is. En natuurlik besef ’n mens hoe goed ons mooie Kaapstad eintlik bestuur word (foute en al).


Esther Durbanville

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article