Vyftien mense is sonder ’n heenkome gelaat nadat drie huise en ses pondokkies Sondag in die vroeë oggendure in Bloekombos, Kraaifontein afgebrand het.
Volgens Liezl Moodie, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, word die saak nog ondersoek en is die oorsaak van die brand nog onbekend.
“Die brand het omstreeks 03:00 in Sam Njokezelalaan in Bloekombos uitgebreek en ons wag nog vir die uitslag oor hoe en waar die brand ontstaan het. Sodra ons die verslag ontvang het, kan ons verdere inligting beskikbaar stel,’ het Moodie gesê.
Die Stad Kaapstad se rampbestuur het Sondag die gebied besoek en kospakkies, toiletware, baba-benodigdhede en komberse aan die brandslagoffers oorhandig.
“Gelukkig was dit nie nodig dat noodhuisvesting gereël moes word nie, want ons het nie so ’n kennisgewing gekry nie. Wanneer ons nie ‘n kennisgewing kry nie, word die brandslagoffers gewoonlik deur hul families gehuisves. Die modus operandi wanneer ’n brand aangemeld word, is dat ons dadelik uitgaan om te gaan kyk wat nodig is en rampbestuur verskaf dan alles wat nodig is,’ het Lauren Roderiques, woordvoerder van rampbestuur, gesê.