“Dis kommerwekkend dat mense links en regs in Kraaifontein vermoor word,” sê Gavin Riddles, woordvoerder van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) hier, nadat daar na bewering vyf mense hier vermoor is oor die afgelope naweek.
Riddles sê die polisie se hande is vol en hulle het die hulp en ondersteuning van buurtwagte en straatkomitees nodig, en dat daar ook ekstra hulpbronne na Kraaifontein gestuur moet word.
“Ek het met die stasiebevelvoerder gepraat, asook Dan Plato (provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid). Hy gaan weer die area besoek om ‘n weg vorentoe te bespreek.
“Dit lyk nie of al die polisielede die stasiebevelvoerder se visie vir ‘n veiliger Kraaifontein aangeneem het nie.”
Sers. L.J. Fortuin, ‘n polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar ten minste twee mense vermoor is. Een man (20) is Sondag doodgeskiet. Hy sê ‘n saak van moord word ondersoek.
“Die man het skietwonde in sy maag gehad. Hy is na die hospital geneem deur vriende waar hy aan sy wonde beswyk het.” Fortuin sê die motief vir die skietvoorval word steeds ondersoek.
Volgens Fortuin is daar nóg ‘n 20-jarige man in ‘n aparte voorval gesteek. Dié man het ook skietwonde gehad. “Die persoon het op die toneel gesterf.”
Fortuin sê die polisie het vyf arrestasies gemaak vir hierdie voorval.