Vyf kinders is die afgelope naweek dood nadat die bakkie waarin hulle gery het in ’n ongeluk was.
Die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat ’n saak van strafbare manslag geopen is.
Volgens kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het die ongeluk Sondag 9 Julie op die N1-snelweg in die rigting van Kaapstad, tussen Brackenfell-boulevard se brug en die R300-snelweg, plaasgevind. Vyf kinders tussen een en 10 jaar oud is in die ongeluk dood.
“Volgens inligting het ’n Ford Bantam-bakkie op die N1-snelweg in die rigting Kaapstad vanaf die Koue Bokkeveld na Dunoon gereis toe die voertuig in ’n ongeluk was. Altesame 11 mense was in die bakkie, van wie vyf op die toneel dood verklaar is,” sê Van Wyk.
’n Volwasse man is aangekeer en sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is.
Drie ander passasiers wat beserings opgedoen het, is na ’n hospitaal geneem en ’n vrouepassasier is na die Brackenfell-polisiekantoor gebring vir berading, sê Van Wyk.
Russel Meiring, woordvoerder van die ER24-ambulansdiens, het bevestig dat vyf kinders in die ongeluk omgekom het en dat verskeie ander passasiers beseer is. Die voertuig het glo gerol.
ER24 en ander nooddienste het omstreeks 23:00 op die toneel aangekom en die bakkie op die middelman gevind.
Verskeie mense, kinders ingesluit, was oor die toneel gestrooi. Die mediese personeel het hulle ondersoek en bevind dat vyf kinders oorlede is.
“Niks kon gedoen word vir hulle nie en hulle is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.
Nog mense, onder wie ook kinders, is ondersoek vir hul beserings.
Meiring sê die paramedici het die pasiënte behandel en diegene wat kritiek beseer is, is met gevorderde lewensondersteuning bygestaan, waarna hulle na verskeie hospitale vervoer is.
Van Wyk sê die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
Die polisie versoek dat enigiemand met meer inligting oor die voorval sy Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.


