Die polisie het gister (Dinsdag 12 November) verskeie onwettige vuurwapens en ammunisie in ’n huis in Silveroaks, Kuilsrivier gevind.
AO Liesel Beukes, plaaslike polisiewoordvoerder, sê beamptes van die blitspatrollie in Maitland het om 10:00 op die huis in Mortimerstraat toegeslaan nadat inligting ontvang is oor moontlike onwettige vuurwapens op die perseel.
Beukes sê die polisie het sewe ongelisensieerde vuurwapens, wat wissel van gewere tot rewolwers, asook ’n groot aantal patrone vir verskillende kalibers vuurwapens, binne die huis gekry.
Daar is ook komponente van vuurwapens en gereedskap waarmee patrone gemaak kan word, gevind.
Die polisie het op alles beslag gelê, sê Beukes. Twee mense, ’n 69-jarige vrou en ’n 40-jarige man, is in hegtenis geneem vir die besit van onwettige vuurwapens, ammunisie en plofstowwe.
Hulle sal Vrydag 15 November in die Bluedowns-landdroshof verskyn.