Hermalise Wenn is na bewering deur haar kêrel vermoor.

Terwyl Clinton “Duiwel” Moses vandeesweek die eerste keer in die Goodwood-hof verskyn het nadat hy na bewering sy meisie en die ma van sy kind vermoor het, sukkel die gemeenskap van Elsiesrivier om te verwerk wat gebeur het.

Moses het na bewering Sondagoggend vir Hermalise Wenn (39), met wie hy in ‘n aan-af-verhouding was, aangerand en uiteindelik doodgesteek. Hulle het ‘n driejarige seun saam.

Toe Moses Dinsdag in die hof verskyn het, is sy saak tot 28 Oktober uitgestel om borgtog-inligting te bevestig.

Wenn is glo vir jare deur Moses mishandel en het selfs ‘n beskermingsbevel teen hom gehad.

Charmen Gribi, ‘n geslagsgeweld-aktivis, sê die stelsel faal vroue in die gemeenskap van Elsiesrivier. “Dit is met ‘n swaar hart wat ons moet bevestig dat dit die tweede voorval vanjaar is waar ‘n vrou aan die hand van ‘n lewensmaat dood is. Die vrou in die jongste voorval het ‘n beskermingsbevel gehad. Sy het alles gedoen wat van haar verwag kon word, maar steeds is sy nie beskerm nie. Die geweld gebeur gewoonlik agter toe deure. Die sielkundige afbreking van die slagoffers is groot.

“Ons sien die waarskuwingstekens, maar ons het nie die blitsreaksie-meganisme om die nodige ondersteuning te gee nie. Naweke is veral die ergste en ons moet die beskermingsbevel-stelsel versterk,” sê Gribi.

Volgens Gribi gaan Inspire Network, wat ‘n geslagsgeweld-hulpgroep het, tot aksie oorgaan. “Ons het planne om nuwe opvoedkundige en ondersteunersgroepe vir slagoffers en kwesbare vroue te begin. Ons moet vroue oor hul regte opvoed en seker maak hul regte word deur die regstelsel ondersteun,” sê Gribi.

You need to be Logged In to leave a comment.