Malala Yousafzai is die jongste persoon wat tot nog toe ’n Nobel-prys ontvang het. FOTO: DAN KITWOOD/GETTY IMAGES


Op Dinsdag 9 Augustus gedenk ons weer die 20 000 vroue wat op dié dag in 1956 na die Uniegebou toe opgeruk het in protes teen die paswette. Terwyl hierdie onverskrokke groep vroue se dapper ­dade ons bly inspireer, is Vrouedag ook ’n gulde geleentheid om eer aan die wêreld se hedendaagse leiers en heldinne te betoon.

Vanjaar is ’n besonderse jaar vir vroue in die politiek. Nie net is Angela Merkel steeds aan die stuur van sake in Duitsland nie, maar verlede maand het Theresa May die tweede vroulike eerste minister van Brittanje geword (die eerste een was Margaret Thatcher), en slegs Donald Trump se oranje haredos staan in Hillary Clinton se pad om die eerste vroulike president van Amerika te word.

Elders begin al hoe meer vroue ook die voortou neem in die politiek. In die inleiding tot Forbes se lys van die wêreld se 25 magtigste vroue, skryf Alix McNamara dat die aantal vroulike wêreldleiers – presidente en ander staatshoofde – sedert 2005 meer as verdubbel het. Sy noem Taiwan, Mianmar, Nepal, Kroasië, Mauritius en Litaue as voorbeelde van lande wat in die afgelope jaar vroulike leiers verkies of herverkies het.

Só baie vroulike staatshoofde is deesdae op die toneel, skryf McNamara verder, dat daar vanjaar minder glanspersoonlikhede as gewoonlik op Forbes se lys verskyn.

Op eie bodem het ons ook heelwat prominente vroue op die politieke speelveld. Thuli Madonsela word wyd geprys vir haar werk as openbare beskermer en haar durf in die stryd teen korrupsie en ongeregtigheid.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap en voormalige leier van die DA, het ook al keer op keer bewys dat vroulike politici nie vir hul manlike eweknieë hoef terug te staan nie.

Verder het ons eie dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in 2012 die eerste vroulike voorsitter van die Afrika-unie geword. Sy word ook geprys vir haar uitstekende werk as voormalige minister van binnelandse sake. Onder haar leierskap het dié ­departement in 2011 vir die eerste keer in 16 jaar ’n skoon oudit ontvang.

Buiten die politiek, maak vroue ook in die sakewêreld hul merk. Christine Lagarde tree al sedert 2011 op as die besturende direkteur van die gesaghebbende Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

By die reuse van sosiale media is vroue ook tans aan die stuur van sake. Sheryl Sandberg is die hoofbedryfsbeampte van Facebook, terwyl Susan Wojcicki die uitvoerende hoof van YouTube is.

Vroue beklee selfs topposte by HP, IBM, Apple, PepsiCo en talle ander groot internasionale handelsname.

Suid-Afrika se sakevroue staan ook nie ’n aks terug vir hul internasionale eweknieë nie. Nicki Newton-King is tans die uitvoerende hoof van die Johannesburgse Aandelebeurs – die eerste vrou tot nog toe om hierdie rol te beklee. Nog groot name is Christine Ramon, hoof finansiële beampte van Anglogold Ashanti Beperk, en Maria Ramos, hoofbedryfsbeampte van Absa.

As dit by welwillendheidswerk kom, staan daar ook heelwat vroue uit. Tesame met haar man, Bill, het Melinda Gates reeds miljoene dollars in die welstand van mense ingeploeg deur die Bill & Melinda Gates Foundation.

Dan is daar ook die jong Pakistanse kampvegter Malala Yousafzai wat in 2014 op die ouderdom van 17 die ­Nobel-prys vir Vrede ontvang het – die jongste Nobel-pryswenner ooit.

Die lys formidabele vroue wat wêreldwyd groot invloed het, is lank. Net soos ons voormoeders, wat op 9 Augustus 1956 teen ongeregtigheid opgestaan het, wys dié eietydse heldinne vir ons hoe vroue hulself in die samelewing kan laat geld en ’n daadwerklike verskil kan maak.

¦ Bronne: www.forbes.com, www.leader.co.za, www.whoswho.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article