Die Radio Tygerberg 104FM-omroeper, spreker en skrywer Benescke Janse van Rensburg het die vroue van die Dameskring-Bergsigtak in Durbanville verlede Dinsdag (11 Maart) op ‘n praatjie oor verskillende persoonlikhede getrakteer.
“Sy het die 4 DISC-persoonlikheidstipes met interessante en humoristiese vertellings toegelig, wat telkemale die gehoor laat skater het,” sê Ansie von Molendorff, voorsitter van die Dameskring-Bergsigtak.
“Die kennis wat sy oordra, kan baie goed te pas kom op ‘n bestuur of personeel, waar almal verskillende persoonlikhede het. As ‘n mens weet watter tipe persoonlikheid jyself het, en wat elke lid van jou personeel het, kan baie probleme uitgeskakel word en verskillende take kan aan die regte mense toegewys word,” sê sy.
“Hierdie praatjie het ons almal aan die dink gesit en meer bewus gemaak van hoe ‘n mens teenoor jou medemens moet optree, omdat almal so verskillend is. Dit was verrykend, insiggewend, leersaam en opwindend om weer nuwe dinge te leer!”


