Vroue in Kaapstad en omgewing wat vir hulself ’n paadjie in die sakewêreld as entrepreneurs uitkap, word in die nuwe Afrikaanse televisieprogram Side Hustle Susters op Cape Town TV in die kollig geplaas.
Hoewel Christelle Bekker, ’n mode-ontwerper van Durbanville, nie onder die nege enterpreneurs in die eerste reeks is nie, omdat die reeks reeds klaar beplan was toe haar en die vervaardiger Dee Theart se paaie gekruis het, pryk haar klerereeks Alora Lee in talle episodes. Dee, ook van Durbanville, het in van haar klere tydens die verfilming van die program gedra. “Hopelik is daar ’n volgende seisoen en sal ek dan vir Christelle laat deelneem.
Ek is bly ek kon haar die geleentheid gee om haar klerereeks aan die TV-gehoor bloot te stel. Sy het ’n unieke styl en het regtig uitgestaan,” sê sy.
Vrouehandelsmerke
“Dit was vir my belangrik om slegs plaaslike ontwerpers se klere in die program te dra om só vrouehandelsmerke in die kollg te plaas,” sê Dee.Bekker, wat haar studio vanaf haar huis in Aurora bedryf, is net 24 jaar oud, maar staan met haar voete vierkantig op die aarde. Sy het in die dorpie Smithfield in die Vrystaat grootgeword en na skool mode-ontwerp gaan studeer. Sy en haar suster, Rozaan Bekker (31) van Pretoria, het in Julie verlede jaar ’n aanlyn modewinkel met haar Alora Lee-handelsmerk begin – Christelle as modeontwerper en Rozaan, ’n kardiotegnoloog, wat die finansies behartig. Alora Lee beteken “my droom” in Swahili, verduidelik sy.
“Dit was van skool af my droom om klere te ontwerp.” “Na my studies was daar soveel opsies. Ek het besef ek wil nie in die hoofstroom werk nie; ek hou van my eie spasie en tyd, en voel kreatiwiteit kan nie forseer word nie,” sê sy. Christelle beskryf haar styl as elegant en klassiek, met ’n tikkie boheemsheid. Sy ontwerp vroueklere en bykomstighede en wil uiteindelik haar eie boetiek oopmaak. Besigtig haar klerereeks op Instagram by –alora–lee–za.
Nege entrepreneurs
Die nege entrepreneurs in Side Hustle Susters kom uit diverse agtergronde en is van 26 tot 53 jaar oud. Hulle kom uit al die uithoeke van Kaapstad – van Bloubergstrand tot Mitchells Plain.Daar is onder meer ’n skoonheidsterapeut, Abigail Fortuin, met haar eie skoonheidsalon, Chick Pulse, in Durbanville, ’n dierekundige wat in dierevoeding spesialiseer, ’n privaat sjef, ’n bakster en ’n reisagent. “Baie kom uit ’n korporatiewe omgewing en het elkeen om haar eie redes besluit om hul eie ding te begin doen. Dis werklik vroue wat woeker en wonderlike kleinbesighede bedryf,” sê Dee.
“Suid-Afrika se werkloosheidsyfer is op ’n skokkende hoë 32,1%. Boonop werk minder as 50% vroue, en slegs 15,4% van Suid-Afrikaners het enige tersiêre kwalifikasie. “‘n Gebrek aan kennis, kundigheid en geleenthede beteken dat baie vroue huiwerig is om hul eie besighede te begin.“Vroue in Suid-Afrika is desperaat om ’n inkomste vir hulself en hul gesinne te genereer; daarom moet meer vroue toegang kry tot inligting wat hulle kan help om hul eie besighede te begin,” sê sy.
Sakekenner
“In elke episode deel ’n sakekenner wenke oor hoe om jou eie besigheid te begin – elke episode met ’n ander tema, onder meer hoe om jou kliëntebasis te groei, hoe om jou finansies te bestuur, hoe om werknemers aan te stel en hoe om jouself as entrepreneur te motiveer. Dit word op ’n verstaanbare wyse met praktiese wenke aangebied,” sê sy. “Ek wou hê dit moet ander vroue motiveer om ook hul eie besighede te begin. As jy ’n idee het, begin net. Jy hoef nie als te weet oor hoe om ’n besigheid te bedryf om te kan begin nie. ’n Mens leer langs die pad,” sê sy.
Lee (35), wat aan die Hoërskool Stellenberg gematrikuleer het, is ’n ervare mediapraktisyn en het al in verskeie sektore van die mediabedryf gewerk ná sy ’n BDrama-graad en ’n nagraadse diploma in redigering en vertaling (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.
Dee werk tans as ’n vryskutakteur, aanbieder, skrywer, stemkunstenaar en seremoniemeester. Sy het ook ’n dekade lank in die radiobedryf gewerk en was al agter die mikrofoon op radiostasies soos MFM, Radio Helderberg en RSG. Passievol oor mense Dee se mees noemenswaardige ervaring in TV-produksie sluit in die medeskepping van die kindertelevisieprogram Buzz, wat tans in naproduksie is en binnekort uitgesaai gaan word. Sy het as produksiebestuurder, assistentregisseur en draaiboekskrywer op hierdie program gewerk.
Sy het ook al op ’n paar musiekvideo- en kortfilmstelle gewerk.Haar ervaring as aanbieder sluit die aanbied van die aanlynkanaal, Bioskoop, in. Sy het ook die kykNET Silwerskermfees se digitale program Groener aangebied, wat in 2019 as die Top-vier digitale TV-program aangewys is.Sy is passievol oor mense, stories en om mense te bemagtig om hul drome en passies te volg en hul volle potensiaal te bereik en sy hoop om dit met Side Hustle Susters te bereik, sê sy. Dié program het reeds op 12 Mei begin en word op Sondae om 17:30 uitgesaai.
Heruitsendings is Dinsdae om 19:00 en Woensdae om 11:30. Kyk dit gratis op die DStv-kanaal 263, asook op kanaal 331 op Freevision (satellietdiens), aanlyn by www.capetowntv.net of www.freevisionplay.co.za.Besoek Side Hustle Susters op Facebook of op Instagram by @sidehustlesusters of @deetheart.


