Vrou wie se lyk in dam gevind is, was glo ‘stout’

Familie van die vrou wie se lyk op Dinsdag 4 Oktober in ’n dam naby Joostenbergvlakte gevind is, was bewus van haar dwelmverslawing en het na haar 5-jarige dogtertjie omgesien.


Familie van die vrou wie se lyk op Dinsdag 4 Oktober in ’n dam naby Joostenbergvlakte gevind is, was bewus van haar dwelmverslawing en het na haar 5-jarige dogtertjie omgesien.

Miriam Samuels, die ouma van Anoeshka, het Vrydag aan TygerBurger gesê dat hulle eindelik berusting gevind het ná Anoeshka, of Nushka, se dood. Haar ma, Colette, stem saam.

Ek het lankal verwag dat sy dalk vermoor of verkrag kon word
Miriam Samuels

“Ek wil nie ontken dat my kind stout was nie, want sy het nie net die huisgesin besteel nie, maar ook winkeldiefstal gepleeg,” het Colette gesê.

“Dít alles om tik of mandrax-tablette in die hande te kry. Wanneer sy my geld gesteel het, het ek haar deur haar gesig geklap, maar sy het nooit teëgepraat of terugbaklei nie. Net altyd jammer gesê, en dat sy ons liefhet.

“Sy het nooit die gesteelde goed huis toe gebring nie en ons het haar al twee keer weggestuur vir rehabilitasie, een keer by Tehillah-sentrum van suster Magde Kleyn in Elsiesrivier, en die een op die plaas buite Vredenburg aan die Weskus. Toe sy van laasgenoemde terugkeer, het sy baie mooi gelyk en ons ook kom verras met haar dogter Michaela, nou vyf jaar oud,” het Colette vertel.

Colette en Miriam het Michaela grootgemaak, want Nushka het kort-kort in dwelmverslawing verval.

“Ek het lankal verwag dat sy dalk vermoor of verkrag kon word, want as sy saans by die deur uit is, het sy eers in die vroeë oggendure hier aangekom,” het Miriam op haar beurt gesê.

“Baie ander wat saans so laat rondloop, kom nooit huis toe nie, en sy was gelukkig om by die deur in te stap, al was dit nou soggens vroeg.

“Sy was baie bang vir ’n mes en om seergemaak te word en die feit dat sy met haar hande voor haar gesig gevind is, wys my dat sy gekeer het vir iets of iemand. Sy was ook baie lief om die Bybel te lees, maar musiek en dans was haar gróót liefdes. Sy het veral van Nicky Minaj, R&B en hip-hop gehou,” het Miriam bygevoeg.

Colette het gesê sy sal haar mis, want daar gaan nou niemand wees vir wie sy kan skel as haar geld verdwyn nie.

“Sy was baie lief vir vloere was en was baie knap en handig met huiswerk. Ek kon alles netso in haar hande los, maar die dwelms het haar ondergekry,” het Colette gesê.

“Dis nie maklik vir ’n ma om ’n kind aan die dood af te staan nie, want kinders begrawe gewoonlik hul ouers. Ek voel nou rou en seer en hopelik sal dít ook oorgaan. Ons wag nou net vir die geregtelike doodsondersoek om afgehandel te word, sodat ons haar kan begrawe.

Benewens Anoeshka, het Colette nog twee dogters, Nicole en Anastasia, en een seun, Ridge.

“Ons is hartseer oor haar heengaan, maar het nou vrede, want ons weet nou waar sy is,” het Miriam hartseer bygevoeg.

“Sy is nou op ’n beter plek,” sê Samuels.

Anoeshka is op Woensdag 5 Oktober as vermis by die Kraaifontein-polisie aangemeld.

Hoewel haar lyk reeds twee dae vantevore gevind is, het haar pa, David Damons, en familievriend Solly Claasen, dit eers die Woensdag in die Tygerberg-hospitaal se lykshuis gaan uitken. Hulle het dit aan haar Rastalokke (dreadlocks) uitgeken, want haar gesig was erg vermink.

You need to be Logged In to leave a comment.