‘n Vrou wie se familie vir 24 jaar na haar gesoek het en wat
onlangs opgespoor is, het kort ná haar tuiskoms gesterf.
TygerBurger het onlangs berig hoe Jeanette van der Horst 24 jaar
gelede, ná ‘n familie-tragedie, verdwyn het en onlangs met haar familie herenig
is. Weldoeners het haar by ‘n bushokkie in Elsiesrivier gewaar en na die
polisie geneem.
Onder aanvoering van Nadiema Salie van die Pink Ladies, die
organisasie wat na vermiste mense soek, is Van der Horst se familie in
Eersterivier opgespoor. Hoewel dit ‘n blye wederkoms was, is daar vasgestel dat
sy kanker het en is sy deur haar suster, Magrieta Lottering, hospitaal toe
geneem.
Van der Horst is na die Tygerberg-hospitaal verwys waar sy gister
(23 Mei) beswyk het terwyl die dokters besig was om haar te ondersoek.
“Die kanker was reeds ver versprei en daar was niks wat die
dokters kon doen nie. Ons familie is hartseer dat sy so vinnig weer van ons
weggeneem is, maar ons is ook dankbaar vir die kort tydjie wat ons haar weer
kon sien. Sy kan nou in vrede rus,” sê Lottering.


