Van links: Hannelie Julies (Caswell se vrou), Sophie Julies, Ruan Julies, Geraldine Willemse en Caswell Julies by die hereniging Woensdagaand by n koffieplek in Kuilsrivier.


Danksy ’n groot skoot genade en ’n paar helpende hande is ’n Bloemfonteinse vrou wat Dinsdag (8 Oktober) in Bellville vermis geraak het, Woensdagaand ongedeerd in Kuilsrivier met haar seun herenig. 

Ruan Julies van Fisantekraal en sy meisie, Geraldine Willemse wou sy ma, Sophie Julies, wat geestesgesondheidsprobleme het, Kaap toe bring om hulp vir haar te probeer kry, maar toe loop dinge amper lelik skeef. 

Geraldine wat Sophie op ’n busrit van Bloemfontein vergesel het, vertel hulle het Dinsdag 10:30 by die Intercape-busdiens se halte in Bellville aangekom. 

“Ons het vir Ruan gewag. Sy wou toilet toe gaan. Ek het gesê sy moet net wag, haar seun kom nou.”

Geraldine sê sy het net omgedraai om al hul bagasie neer te sit toe Sophie begin wegstap het. Toe sy so ver kom om haar te volg het Sophie begin hardloop.

“Sy’s oor die besige straat, en toe ek om die draai kom was sy net weg.”

Sy sê Ruan was seker so 10 minute later daar.

“Hy’t ons sakke (bagasie) opgetel. Ek het met hom oor die foon gepraat om te sê waar ek is en waarnatoe sy gehardloop het.” 

Hulle het orals gesoek en haar in ’n stadium naby Voortrekkerweg gesien.

“Ek dink sy het toe iewers weggekruip, sy kon nie so vinnig verdwyn het nie,” sê Geraldine. 

Hulle het haar by die Bellville-polisie as vermis aangemeld. 

Soektog

Caswell Julies van Eersterivier is nie familie van Sophie nie. Hy is wel oorspronklik van Bloemfontein en omdat hy vir Kaapstad metropolisie werk het Sophie se familie hom genader.

“Ek het Woensdag net na 15:00 ’n oproep van ’n vriendin in Heidedal, Bloemfontein gekry om te sê haar tannie wat Dinsdag per bus van Bloemfontein na Bellville gereis het, word vermis,” sê hy. 

Caswell het foto’s van Sophie op Facebook en WhatsApp groepe geplaas en hulp gevra.

“Toe ek nêrens terugvoer kry nie het ek besluit om polisiestasies te bel. 

“Toe ek Kuilsrivier-polisie bel het die dame wat daar geantwoord het gesê hulle is so verheug want die vrou is al van die vorige dag (Dinsdag) daar by die polisiestasie.”

Caswell en sy vrou Hannelie het Sophie toe gaan optel by Kuilsrivier-polisie en haar na ’n koffieplek geneem.

“Dit was ’n koelerige aand toe neem ons haar vir koffie.” 

Geraldine en Ruan wat eers by die polisie langs was en hulle bedank het vir hul rol om Sophie veilig te hou, het kort daarna vir Sophie by die koffieplek kom kry. 

Omswerwinge

Caswell vertel dat Corne Konstabel hom Donderdag gekontak het oor Sophie.

Corne woon naby die Kuilsrivier-treinstasie en sy het hom laat weet dat sy Sophie daar naby gesien ronddwaal het.

Corne sê sy het het Sophie Woensdag naby die stasie op en af sien loop. Sophie was baie verward.

“Al wat sy geweet het is dat sy van Bloemfontein kom,’’ sê Corne.

Hulle het haar polisiestasie toe geneem maar Corne het haar laatmiddag weer in die straat sien dwaal.

Corne sê die polisiebeamptes vir die nagskof het net aan diens gekom toe hulle haar weer terug polisiekantoor toe geneem het. “Ons het vir die polisieman gesê: sy gaan weer loop, hulle moet die hek sluit sodat sy nie kan uitgaan nie.”

Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, sê twee konstabels wat Dinsdagaand op patrollie was het Sophie omstreeks 22:00 gesien sit op die sypaadjie in Bokmakieriestraat. 

“Sy het baie verward gelyk en hulle het haar toe ingebring na die polisiekantoor.”

Sophie het by die polisiekantoor oornag maar toe blykbaar Woensdag geloop toe die skofte geruil het. Danksy Corne was sy wel Woensdagaand weer terug by die polisiekantoor. 

Beukes sê volgens Sers Caroline Jansen wat Dinsdag en Woensdag op nagskof was het hulle wel teen Woensdag ’n adres in Heidedal, Bloemfontein gehad maar gesukkel om plaaslik ’n familielid van Sophie op te spoor. Toe laat hoor Caswell gelukkig van hom. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article