Vrou verkies St. Josephs om haar 40ste te vier

“My planne vir 2018 is om voort te gaan met soortgelyke projekte deur die jaar en om diegene wat die Kersparty geborg het, deel van my A-span te maak. Sonder die hulp van die borge, Schouten en Pieterse, was die Kerspartytjie nie ’n sukses nie,” het Petersen gesê.


Dis nie elke dag dat iemand besluit om nié haar 40ste verjaardag met familie en vriende te vier nie, maar om eerder ’n Kerspartytjie te hou vir minderbevoorregte kinders.

Dít is presies wat Zelda Pieterse gedoen het toe sy haar 40ste verjaardagparty met die St. Joseph-kinderhuis in Montana gevier het. Die pret het om 10:00 begin en is eers om 16:00 afgesluit.

“Ek het liewer besluit om vir ’n tehuis te soek wat ek kan borg met ’n Kersparty as om familie en vriende te onthaal op my 40ste verjaardag. Met die hulp van ’n vriendin, Liezel Schouten, het ons die St. Joseph-tehuis ontdek wat na ongeveer 140 chroniese siek kinders tussen die ouderdomme van nul en 18 jaar omsien. Nadat ek talle tehuise besoek het, het ek hulle gekies,” het Pieterse gesê.

Die Kerspartytjie is gehou waar die kinders kon smul aan ’n middagete, en die middagete en nagereg is alles deur Spar van Seepunt en ’n vriendin geskenk.

“Die ander lekkernye soos kolwyntjies, koeldrank, geskenkpakkies, versierings en vermaak, het ek geborg. Ek het familie en vriende genooi om die dag saam met die kinders deur te bring en ook my verjaardag te vier, maar hulle moes ’n geskenk of twee saambring,” het sy gesê.

Schouten, familie en vriende het geskenke vir die babas in die  baba-saal aangekoop, wat agterna uitgedeel is.

“Ek het die dag se vermaak gereël en die partytjiegangers is deur die diskojoggie Matthew Isaacs, die jazz-orkes Signature SA en die trompetspeler Clint Abrahams verskaf. Gaste het handmasserings van twee verteenwoordigers van Woolworths ontvang en ’n ystee-stalletjie is ook opgerig,” het Pieterse gesê.

Kersvader het die mooi toegedraaide Kerspakkies aan oud en jonk uitgedeel en natuurlik is die oomblik met ’n foto saam met Kersvader vasgelê.

“Die pret het nie net oor die etery gegaan nie: twee springkastele het die kinders van hul oortollige energie ontslae laat raak. Boonop kon die kinders ook hul gesig en hande verf en ook met die verf speel. Ander speletjies is ook gespeel, want die suiker in die lekkernye het die kinders ekstra energie gegee,” het sy geskerts.

Ronel Petersen van St. Josephs-tehuis kon ook nie uitgepraat raak oor die verskil wat Pieterse in die kinders se lewe gemaak het nie.

“Dit was vir my net ongelooflik dat iemand haar partytjie opoffer om kinders se harte bly te maak. Boonop het sy, haar familie en vriende ook hul tyd en energie met die kinders gedeel, iets wat jy nie in vandag se lewe kry nie,” het Petersen gesê.

Volgens haar word die kinders deur hul ouers in die tehuis geplaas, omdat hulle nie self vir die kinders kan sorg nie.

“Baie ouers kan ook nie die behandeling vir die chroniese siektes van hul kinders bekostig nie en dan wend hulle hul na ons. Ons behoeftes wissel van toiletware vir babas tot tieners, nie-bederfbare en bederfbare kos, skoene, klere en skryfbehoeftes om maar net ’n paar te noem. Geldelike bydraes word ook verwelkom sodat ons volhoubaar kan bly,” het sy gesê.

Petersen het ook genoem dat die tehuis geseënd is om Pieterse en Schouten met hul positiewe energie aan boord te hê.

“Albei het onselfsugtig hul tyd en geld gegee om die dag vir die kinders van die tehuis spesiaal te maak. Hulle sal beslis nie die Kerspartytjie van 2017 vergeet nie,” het sy gesê.

Vir meer inligting en die behoeftes van St. Josephs kan belangstellendes hul webtuiste by http://stjosephshome.org.za/gifts-in-kind/ besoek.

“My planne vir 2018 is om voort te gaan met soortgelyke projekte deur die jaar en om diegene wat die Kersparty geborg het, deel van my A-span te maak. Sonder die hulp van die borge, Schouten en Pieterse, was die Kerspartytjie nie ’n sukses nie,” het Petersen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.