Die Brackenfell-polisie het op Dinsdagaand 11 September ’n
31-jarige vrou in hegtenis geneem nadat ’n daggakwekery in haar huis gevind is.
Die Stad se Metropolisie- en honde-eenheid het die huis die
afgelope twee weke dopgehou, nadat inligting ontvang is oor ongerymdhede by die
huis, aldus inligting wat deur die Stad Kaapstad verskaf is.
Luidens die inligting het die polisie die huis Dinsdagaand
deursoek en op twee kweektente in twee verskillende kamers afgekom.
Chemikalieë, twee sakkies dagga en ’n houer daggasade is ook in beslag geneem.
“Die vrou, wat die huis huur, het erken dat sy die dagga vir
persoonlike gebruik kweek,” het ’n woordvoerder van die Stad gesê.