Dat so ’n wrede moord in Vrouemaand kon plaasvind, is skokkend.
Só sê Angus McKenzie, raadslid van Bonteheuwel, nadat Ashura Jantjies verlede week in Firehornstraat in Bontheuwel in haar mond geskiet is.
Jantjies se kêrel, Waleed Khan, het Dinsdag in die hof op aanklagte van moord en die besit van ’n onwettige vuurwapen verskyn. Daar word beweer dat Khan vir Jantjies geskiet het en toe by haar liggaam gewaak het. Hy het hom later self aan die polisie oorgegee.
By verlede Dinsdag se hofverskyning het verskeie mense uit die gemeenskap van Bonteheuwel voor die hof betoog dat Khan nie moet borgtog kry nie. McKenzie was een van die teenwoordiges.
“Hierdie voorval wys ons net weer hoe ver ons nog moet gaan wat geslagsgeweld betref en om ons vroue te beskerm. Individueel en as ’n gemeenskap moet ons baie meer doen om vroue te beskerm,” sê McKenzie.
Khan is deur die hof na ’n distriksgeneesheer verwys om vas te stel of hy toerekeningsvatbaar is om in die hof te verskyn.
McKenzie sê dis bog dat Khan nou “mal” speel. “Toe hy haar, vermoedelik in haar slaap, geskiet het, het hy niks makeer nie. Nou ewe skielik het hy geestesgesondheidsprobleme.
“Ons gaan die hof sy gang laat gaan, maar ons gaan seker maak hy kom nie uit nie,” sê McKenzie.


