’n Jong vrou van Mitchell’s Plain is op Guy Fawkes-aand koelbloedig vermoor toe sy by haar familie in Kraaifontein gebraai het.
Walisha Koopman (24) het saam met drie ander mans buite die huis in Vierde Laan in Eikendal gestaan, toe twee verdagtes om sowat 19:30 in die straat na hulle aangestap gekom het.
“Die verdagtes het op hulle begin skiet en daarna in ’n swart VW Golf weggejaag het,” sê kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder.
Na berig word, is Koopman van naby agter die kop geskiet en op die toneel oorlede. Die drie mans tussen die ouderdomme van 21 en 28, is beseer.
Volgens Van Wyk word die omstandighede en motief rondom die voorval nog ondersoek.
Geen arrestasies is al gemaak nie.