‘n Vrou van Durbanville wat vir jare drie keer per week dialise moes ontvang weens nierversaking, het ‘n nuwe kans op ‘n normale lewe gekry nadat haar vriendin onlangs vir haar ‘n nier geskenk het.
Die 60-jarige Erica van der Westhuizen het haar vriendin, Jani Mew (46), heel ironies 13 jaar gelede ontmoet in die spreekkamer van die internis dr. Rust Theron by die Mediclinic Durbanville, waar Mew die rekeninge behartig het en sy ‘n pasiënt was.
Polisistiese nier- en lewersiekte is in 2011 per toeval by Van der Westhuizen gediagnoseer toe sy vir ‘n ander skandering gegaan het. “Dis ‘n oorerflike siekte, hoewel nie een van my ouers dit gehad het nie,” sê sy. Ongelukkig het albei haar kinders, Kimberley (37) en Chad (33), dit oorgeërf, maar kan hulle dit met die regte lewenstyl bestuur.
Simptome
Voordat sy enige simptome getoon het, was sy ‘n gimnastiekafrigter – “relatief fiks en altyd besig”, sê sy.
“Afrigting het egter al hoe moeiliker geraak. My niere was vergroot en ek het pyn gehad ná afrigtingsessies en het later as afrigter uitgetree,” sê sy.
Sedert haar niere sowat vyf jaar gelede versaak het, moes sy drie keer per week vir dialise gaan – elke keer meer as vier ure – om haar bloed te filtreer en vog te verwyder.
“Ek het net geen energie gehad nie, was konstant naar en het met velprobleme, hoë bloeddruk en gewrigs- en rugpyn gesukkel.
“Die lewe met dialise is baie moeilik. ‘n Mens voel uitgeput op die dag van dialise; jou sewedagweek bestaan skielik net uit vier dae. Dit was moeilik om met vakansie te gaan omdat jy altyd naby ‘n dialise-sentrum moet wees om elke tweede dag dialise te kan ontvang,” vertel sy.
Streng dieet
“Jy is ook op ‘n baie streng dieet; daar is baie dinge wat jy nie kan eet nie. Ek moes ook my vloeistofinname tot selfs vier koppies per dag beperk – dis water, melk, tee, sop, sous en selfs vrugte ingesluit. As ‘n mens nie die reëls volg nie, raak jy baie siek en kan selfs sterf,” verduidelik sy.
“Met polisistiese niersiekte is jou niere met siste bedek en raak regtig baie groot. Daar was nie plek in my liggaam vir ‘n nuwe nier nie en in Desember verlede jaar is my regternier verwyder om plek te maak indien ek ‘n oorplanting sou kon bekom.
“Die wagperiode is egter tussen 12 en 15 jaar; ek het basies alle hoop opgegee dat ek ooit ‘n nuwe nier sou ontvang. Daar was baie familielede wat bereid was om ‘n nier te skenk, maar daar was altyd ‘n siektetoestand of iets wat hulle ongeskik gemaak het.
“Op ‘n dag het ek en Jani gesels en sy het my oor my bloedgroep uitgevra. ‘n Paar dae later het sy my gebel en gesê sy is dieselfde bloedgroep en wil graag vir my ‘n nier skenk. Ek het geen woorde gehad nie. Ek kon nie glo dat iemand wat nie eens familie van my is nie, so iets vir my wil doen nie.
“Maar dit is Jani; sy het ‘n hart van goud en is die dapperste en gaafste mens wat ek ken. Sy plaas altyd ander voor haarself en ek is so trots om haar as ‘n vriend te hê,” sê sy.
Suksesvol
Die oorplanting is op 24 Junie gedoen en wat baie suksesvol. “Nie net was ek ná ‘n week tuis nie, maar die nier werk so goed, ek voel wonderlik. Ek dink dit het baie daarmee te doen dat ons sulke goeie pasmaats was; die dokters het gevra of ons seker is ons is nie susters nie!”
“Nie net waardeer ék haar gebaar nie, maar ook my hele familie. Ek het my lewe teruggekry en my familie hul vrou, ma en ouma. Ek kan nou weer my kleinkinders by die skool gaan haal, hulle met hul huiswerk help en gehaltetyd met hulle spandeer. Hulle is my lewe; hulle sê tannie Jani is hul superheld.
“Ek kan nou ook met vakansies gaan, met ons honde gaan stap en eet wat ek wil. Inteendeel, ek kon vir die eerste keer in vyf jaar avokadopeer eet, en dit was wonderlik.
“Hoewel ek uiters dankbaar is vir my nuwe lewe, voel ek skuldig oor my vriende wat ek by dialise-sessies ontmoet het, wat nie so ‘n geskenk ontvang het nie. My wens is vir meer mense om orgaanskenkers te raak. Jy kan nie net een persoon se lewe verander nie, maar hul hele familie se lewens,” sê sy.
Vir Mew was die skenking van haar nier ook ‘n gebaar om iets aan haar oorlede suster terug te gee.
“Ek het my tweede oudste suster sewe jaar gelede verloor aan ‘n ander siekte waaraan ek niks kon doen nie, maar ek sou enigiets doen om my suster te red. Ek het besluit ek kan wel iemand anders se lewe red. Ek het net gebid daaroor en besluit as dit die Here se wil is en as ons liggame ooreenstem, sal ek dit doen,” vertel sy.
Altyd naby dialise-sentrum
“Ek het ook besef wat Erica moet deurgaan deurdat sy altyd naby ‘n dialise-sentrum moet wees en nie met vakansie kan gaan nie, want sy moet drie keer per week dialise kry. Sy mag sekere goed nie eet nie en bietjie vloeistof per dag inneem. Erica is so ‘n goeie mens en verdien ‘n normale lewe. Sonder twyfel sal ek dit weer vir haar doen. Dis so wonderlik om te kan sien hoe dankbaar Erica en haar familie is. Hulle almal kan nie genoeg dankie sê nie. Dis ook wonderlik om te sien hoe my nier dadelik begin werk het in haar liggaam en hoe haar gesondheid verbeter,” vertel sy.
“Só goed,” spot sy, “dat Erica ook skielik hou van koffie en sjokolade soos ek – so dit lyk my my nier het daardie invloed!”
Erica se suster het haar onlangs vir die Inspirasievrou 2025-kompetisie van die webblad Voelgoed ingeskryf en sy is as een van 50 finaliste aangewys.

Erica van der Westhuizen (links) en Jani Mew, haar vriendin wat aan haar ‘n nier geskenk het, kan nou selfs ‘n glasie wyn saam geniet.






You must be logged in to post a comment.