Die familie van ‘n vermiste vrou van Elsiesrivier is rasend van bekommernis en beplan om eerskomende naweek ‘n grootskaalse soektog van stapel te stuur.

Melissa Hills word reeds sedert 26 Junie vermis nadat sy ‘n buurvrou gevra het om haar hospitaal toe te neem. Die buurvrou het haar selfoon gaan haal en met haar terugkeer was Hills skoonveld. Hills het net een long nadat die ander weens ‘n infeksie verwyder is.

Haar suster, Nuraan Delgada, sê hulle weet iets is drasties verkeerd omdat Hills altyd in kontak met haar ma is. “Hoewel sy in die verlede met dwelms gesukkel het en ook in ‘n rebahlitasie-sentrum was, was sy die laaste ruk skoon nadat ‘n vriendin haar gehelp het om die verslawing te oorkom. Sy het ook ‘n spesiale toelaag ontvang en ons het gehoop om haar spore met haar Sassa-kaart te volg, maar elke sent is nog daar,” sê Delgada.

Sterk persoonlikheid

Volgens Delgada het haar suster ‘n baie sterk persoonlikheid, maar ken sy nie die wêreld buite Elsiesrivier nie. “My ma sukkel verskriklik want sy weet nie waar haar dogter haar bevind nie. Sy word of gevange gehou of haar liggaam lê iewers. Ons is rasend van bekommernis en was al by lykshuise, maar tot op hede is daar nog nie een leidraad nie,” sê Delgada.

Sy sê die familie kan nie net stil sit en wag vir inligting nie en daarom het hulle besluit om eerskomende Saterdag ‘n soekgeselskap van stapel te stuur. “Ons vra die gemeenskap om hulle Saterdag omstreeks 13:00 by ons aan te sluit om my suster te soek. Ons sal elke veldjie en rivier of sloot in die omgewing deursoek.

Help asseblief

“Ons sal elke bietjie hulp waardeer, want ons weet nie meer wat om te doen nie, maar kan ook nie net sit en wag nie. Kom help ons asseblief. Indien jy weet van iets, hoe gering ook al, vertel die polisie,” smeek Delgada.

Indien jy oor enige inligting beskik wat die polisie kan help, bel Stop Misdaad by 08600 1011 of besoek die Elsiesrivier-polisie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article