Was jy al ooit so lief vir iets dat jy ‘n
liedjie daaroor geskryf en ‘n musiekvideo opgeneem het?
’n Musikale besigheidseienaar het haar liefde
vir die Springbokke tot nuwe hoogtes geneem toe sy onlangs ’n liedjie en video
vir die span bekendgestel het.
Leonie Pelteret, lid van die vroue –
boeremusiekgroep die Kaapse Affodille, het twee maande gelede die liedjie “Amabokke Back in Town” bekendgestel. Die liedjie is sedertdien meer as 37 000 op
YouTube gekyk.
Pelteret, wat saam met haar man Mark, ’n sekerheidsmaatskappy in Worcester bedryf, het al haar werknemers genader om saam met haar in die video te wees.
“Ek is ‘n groot rugby-ondersteuner en het vanaf vyfjarige ouderdom Nuweland-rugbystadion besoek,” sê Pelteret.
Haar pa, Jerry, het ook die Bellville-rugbyklub se o.21-span afgerig en Pelteret het saam na vele wedstryde gereis. Sy is in Bellville gebore en het later in Somerset-Wes grootgeword.
Tog het sy die liedjie eintlik in 2005 al vir Bafana Bafana geskryf. Sy het toe in Londen by ’n musiekskool studeer en toe die verlange te veel raak, het sy die liedjie as een van haar skoolprojekte geskryf.
Die liedjie was vir jare in haar agterkop totdat
sy vroeër vanjaar Springbok-ondersteunershemde in ’n winkel gaan koop het. Sy’t
skielik gedink hoe perfek die liedjie vir vanjaar se wêreldbeker sou werk en
vir Johan Groenewald van Audiovibe gekontak om haar te help om die liedjie op
te neem.
Sy het haar werknemers ingespan en die opneem
van die liedjie se video het later ’n groot spangeselligheid geword. Hulle het
toe besef baie van die werkers het versteekte talente. Daar is ’n paar wat goed
sing, instrumente bespeel, goed is met rekwisiete en nog ander wat die
choreografie kon hanteer.
Hulle glo nie in hoogmoed by hul maatskappy
nie, sê sy. “Almal is gelyk.”


