’n Motoris is verlede week na die hospitaal gehaas nadat sy in haar motor op die N7-snelweg deur ’n onbekende groep mans aangeval en geskiet is.
Die voorval het op Maandag 9 Oktober gebeur.
Volgens Ineke van Huyssteen, woordvoerder van die ER24-ambulansdiens, het hulle na die toneel op die snelweg tussen Richwood en Dunoon gegaan, waar hulle ’n vrouebestuurder gevind het wat in ’n beweerde rooftog ’n skietwond aan haar bors opgedoen het.
“Met ER24-paramedici se aankoms op die toneel omstreeks 12:30 was die brandweerdiens en ander nooddienswerker reeds daar, besig om mediese bystand aan die motoris te bied.
“By verdere ondersoek is vasgestel dat die vrou ernstige beserings opgedoen het en gevorderde lewensondersteuningsingryping is op die toneel toegepas, waarna sy na ’n hospitaal vervoer is,” sê Van Huyssteen.
Sy sê daar word vermoed dat die voertuig waarin die vrou en nog ’n passasier gereis het, langs die snelweg onklaar geraak het, waarna hulle glo aangeval is.
“Die manlike passasier is ongedeerd.”
Die presiese omstandighede rondom die voorval is nog onbekend en word deur die plaaslike owerhede, wat ook op die toneel was, ondersoek, sê Van Huyssteen.
Lt.kol. Jeremy Pieterse, bevelvoerder van die Bothasig-polisie, het die voorval bevestig en gesê dat dit deur hul speurspan ondersoek word.
Lede van die Richwood-buurtwag, Precinct Response en District Watch privaat sekerheidsmaatskappye was ook op die toneel.
Volgens die buurtwag was daar vier verdagtes betrokke.
Luidens ’n inskrywing op sy sosialemedia-blad het die verdagtes glo toegang tot die voertuig probeer kry deur die vensters stukkend te slaan.
’n Struweling het uitgebreek, lui die inskrywing. Die vrou het glo twee skietwonde opgedoen.
Die N7-snelweg is berug daarvoor dat motoriste op dié pad aangeval word.
Buurtwagte het herhaaldelik in die verlede motoriste wat van dié roete gebruik maak, gemaan om bedag te wees en nie langs die pad stil te hou nie.