Jeanette van der Horst (middel) saam met die mense wat gehelp het om haar met haar familie te herenig. Van links is Gerald Witbooi (maatskaplike werker), Nadiema Salie, Fatima Parker (Pink Ladies) en Mike Wilson (maatskaplike werker).


‘n Vrou van Eersterivier is in ekstase nadat haar suster wat 24 jaar gelede vermis geraak het, onlangs in Elsiesrivier gevind is.

Jeanette van der Horst (54) het in 2000, ná verskeie persoonlike terugslae, verdwyn en hoewel sy by verskeie geleenthede in verskillende woonbuurte opgemerk is, het barmhartige Samaritane haar verlede week by ’n bushokkie in Eersterivier gesien en na die polisiekantoor geneem.

Nadiema Salie, ’n lid van die Pink Ladies-organisasie, wat na vermiste mense soek, sê sy het verlede Dinsdag ’n oproep van ’n plaaslike polisiekaptein gekry. “Die kaptein het gesê twee mense het ’n vrou ingebring wat hulle gedisoriënteerd by ’n bushokkie gevind het en het gevra of ek nie kan help om haar familie op te spoor nie. Toe ek by die stasie kom, het ek met haar gepraat en hoewel sy nie baie duidelik kon praat nie, kon ek uitmaak dat sy familie in Eersterivier het. Sy het ook ’n adres geken en ek het van my kontakte, Leonora Fransman van die Jaycee Foundation en Wendell Slabbert, ’n gemeenskapswerker, gebel om te gaan kyk of daar mense is wat haar ken. Dit was nie die regte adres nie,” sê Salie.

Salie het egter nie op haar louere gerus nie en het intussen ’n elektroniese pamflet gemaak, wat sy onder verskillende misdaadgroepe versprei het in ’n poging om Van der Horst se familie op te spoor. “Wonder bo wonder het ’n kleinniggie, Samantha Lottering, van die pamflet te hore gekom en die Elsiesrivier-polisie gekontak. Hulle het vertel dat Van Horst reeds 24 jaar vermis is en dat hulle gereeld by binnelandse sake gaan verneem het of sy nog lewe,” sê Salie.

Sy het haar dank betuig aan almal wat gehelp het om Van der Horst se familie op te spoor.

TygerBurger het met Van der Horst se suster, Magrieta Lottering, by wie sy nou tuis is, gepraat. “Ons as familie is verheug om haar weer ná al die jare te sien. Ek vermoed dis weens die trauma van twee van haar kinders wat dood is dat sy die pad gevat het, maar ons is net bly sy is hier en onder ons toesig,” sê Lottering.

Met die blye wederkoms van haar suster, was daar ook hartseernuus.

“Jeanette het ’n groeisel aan haar nek en ons was saam met haar by die dokter. Hulle het bevestig dat dit kanker is, wat reeds na die oog en ’n gedeelte van die brein versprei het. Ons moet weer later vandeesmaand na die Tygerberg-hospitaal gaan vir verdere toetse. Ten spyte van die diagnose, is ek net bly my suster is nou onder my dak en ons kan reël dat sy mediese behandeling kry,” sê Lottering.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article