’n Vrou van Kalkfontein wat glo haar weerlose bejaarde man aangerand het, is op Maandag 9 September in hegtenis geneem.

AO Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, sê die polisie is om 20:30 na Mount Fletcher-straat ontbied weens ’n klagte van huishoudelike geweld.

Sy sê met die polisie se aankoms was daar heelwat gemeenskapslede in die huis wat glo tussenbeide wou tree omdat die vrou na bewering haar bejaarde man aangerand het.

LEES | Lees die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier

Beukes sê volgens die gemeenskapslede mishandel die vrou glo gereeld haar man, wat sieklik is en homself nie kan verdedig nie.

“Die polisie het die man ondervra en hy wou nie ’n strafregtelike saak aanhangig maak nie.”

Beukes sê die polisiebeampte het toe besluit om self ’n saak aanhangig te maak. Die 52-jarige vrou is in hegtenis geneem op aanklag van gewone aanranding (huishoudelike geweld). Die vrou het op Woensdag 11 September in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.