’n Tweejarige seun en sy ma is in Goodwood dood toe die ma probeer het om haarself, die kind en haar man aan die brand te steek.
Dié tragedie het net ná 02:00 Maandagoggend plaasgevind toe die pa en die ma in ’n woordewisseling betrokke was. Die kind het kort ná die voorval aan sy brandwonde beswyk, terwyl die ma eers Maandagmiddag in die Tygerberg-hospitaal gesterf het.
’n Gebroke Laurens Baskal, die man wat die brand oorleef het, sê sy vrou toon reeds ’n geruime tyd selfdoodneigings.
“Ons het Vrydagaand gestry, maar alles was toe weer kalm. Toe ek Sondagaand uitgaan, het sy gesê as ek terugkom gaan daar ’n verrassing op my wag. Ek het toe besluit om vroeër huis toe te gaan om te gaan sien wat aangaan. Met my aankoms by die huis, kon ek nie by die deur ingaan nie, omdat my vrou ’n stoel voor dit gesit het.
“Ek het toe by die venster van haar suster gaan klop en dié het my ingelaat,” sê Baskal, wat oorspronklik saam met sy gesin uit die Kongo gekom het. Hulle deel ’n kamer in ’n huis waar verskeie gesinne woon.
Met sy aankoms in die kamer het hy rustig sy klere begin uittrek. “Ek was nog besig om my baadjie uit te trek toe sy begin skel en vra wie het die deur vir my oopgemaak. Sy wou ook weet wat ek daar soek en ek antwoord toe dat ek hier hoort.
“Daarna het sy my herinner aan die verrassing wat sy kwansuis vir my voorberei het. Ek was nog besig om my skoene in die kas te sit toe sy sê sy het reeds petrol in die kamer gegooi. Omdat ek nie petrol in die kamer verwag het nie, het ek nie aandag aan haar dreigemente gegee nie,” vertel Baskal.
Toe hy omdraai van die kas af, het hy gesien ’n rusbank, wat in die kamer staan, is in ligte laaie.
“My eerste instink was om die kind te red. Soos ek spring om by die kind uit te kom, het sy voor my ingespring en ’n gestoei het ontstaan.”
“Sy het ’n ander meubelstuk gegryp en voor die deur gesit sodat ek nie kon uitkom nie. Dit was duidelik dat sy ons al drie wou doodhê. Ek kon uiteindelik weens die vlamme niemand red nie. Ek is ’n gebroke man,” sê Baskal hartseer.
Kapt. Wayne Theunis, polisiewoordvoerder, sê die aanvanklike klag van moord wat ondersoek word, sal voortgaan. “Die vrou, wat ’n verdagte in die moord op haar kind was, het ongelukkig ook Maandagmiddag omstreeks 14:00 aan haar wonde beswyk. Die ondersoek sal voortgaan sodat daar vasgestel kan word hoe hierdie tragedie gebeur het. In dié stadium blyk dit of daar ’n geruime tyd reeds probleme tussen die paartjie was. Sy het glo ook ’n geruime tyd reeds selfdoodneigings getoon,” sê Theunis.
Met TygerBurger se besoek aan die toneel was polisielint, uitgebrande klere en verwoeste meubels ’n stille getuienis van ’n huwelikstwis wat tragies geëindig het.