Elke Dinsdag, wanneer die vullis in Ridgeworth verwyder word, begin daar al van vroegdag af ’n ritueel.
Elsa Barnard (75) maak seker sy het genoeg toebroodjies gemaak (soet en sout), dat daar sap of koffie is, en dan wag sy vir die trok se kenmerkende getoet.
Dan stap sy uit, verby haar kar met die reuseplakker in die agterruit, waarop daar staan “it’s cool to be kind”, maak haar hek oop en sit die eetgoed op haar kattebak reg.
Dan kom die mans in haar straat af en soos gebruiklik is hulle blitsig by elke huis se drom.
By die Barnards is hulle binne sekondes in en uit haar erf. Hulle stoot die drom van agter die swaar hek en neem die kos. Die vullis word in die trok gegooi en die dromme daarna weer veilig agter die hek gesit en toegemaak.
Só gaan dit al vir ten minste die afgelope 15 jaar.
“Ag, ek het gedink hierdie outjies is seker honger,” sê Barnard beskeie.
“Ek dink aan hulle as kinders.”
Hoewel die spanne dikwels afwissel, ken sy al die meeste van die mans wat daar werk en hulle vir haar.
“Ons raak bekommerd wanneer sy nie hier is nie,” sê een.
Hulle weet al van die geheime plek waar sy die kos in sulke gevalle vir hulle wegsit, maar hulle bly wonder: Is sy dalk in die hospitaal?
Barnard sê sy sal beslis nie geld gee nie – nie eens as iemand rondom Kersfees vra nie. Sy gee dan immers kos.
Natashia en Rinus de Villiers, onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van die Ridgeworth-buurtwag, sê dit is ’n riem onder hul harte om te sien hoe mense nog ander so waardeer. Hulle het ook vir elkeen van die werkers ’n pet gegee om hulle te bedank vir die werk wat hulle doen – “ondanks die weer, ondanks hul omstandighede”.


