‘n Vrou is onlangs by ‘n nagklub in Voortrekkerweg, Parow, in hegtenis geneem nadat sy na bewering ‘n ander vrou vermoor het.
Sers. Graham Swanson, ‘n speurder verbonde aan die Parow-polisie, sê die voorval het by die Friends African Bar, skuins oorkant die speurtak in die besige hoofstraat plaasgevind. Die voorval het kort ná middernag op Dinsdag 11 Maart gebeur.
Volgens inligting het die verdagte glo twee mense aangeval.
Swanson is om 00:30 gekontak en in kennis gestel oor die moordtoneel waarna hy en nog ‘n kollega ondersoek gaan instel het.
“Met ons aankoms op die toneel was die twee mense wat in die aanval beseer is reeds na die hospitaal geneem. Die verdagte het glo moeilikheid gesoek met party van die mense by die nagklub.”
Die nagklub se uitsmyter is een van die beseerdes. Die verdagte het glo ‘n bottel stukkend geslaan waarna sy hom gesteek het, sê Swanson. Sy het daarna na die kombuis gegaan waar sy ‘n mes in die hande gekry het, en ‘n ander vrou in die sy van haar bolyf gesteek het. Die polisie vermoed sy is naby haar ribbes raakgesteek.
” ‘n Ambulans is ontbied, maar dit het te lank geneem, waarna hulle die vrou per e-taxi na die Karl Bremer-hospitaal vervoer het. Sy is daar met haar aankoms dood verklaar.”
Die oorledene is geïdentifiseer as Noxolo Mbane (43) van Kraaifontein. Die manlike slagoffer (27) van Elsiesrivier is na die Tygerberg-hospiaal oorgeplaas.
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord en poging tot moord.
Kata is kort na die aanval by ‘n tweede nagklub verder af in Voortekkerweg aangekeer. Sy het verlede Woensdag weer in die Bellville-landdroshof verskyn. Die polisie het borgtog teengestaan.


